Nuus 11:00
BULLETIN 8 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum sê Nzimande word altyd betrek by bewerings oor korrupsie
# Mediese verskaffers onttrek aan die Gaza-hospitaal weens Israelse militêre aktiwiteite
# En sokker: Liverpool skakel Arsenal uit in die FA-beker met twee laat doele
# Die Activists and Citizens Forum sê die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, word altyd betrek by korrupsiebewerings en sy naam duik altyd op. Die forum sê Nzimande speel altyd die rol van slagoffer, maar hy moenie die intelligensie van die land se mense onderskat nie. Hy doen ‘n beroep op die minister om uit sy pos te bedank. Die Activists and Citizens Forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê as dit nie gebeur nie, moet president Cyril Ramaphosa hom afdank:
# Die Marshalltown Fire Justice Campaign is uiters bekommerd oor die rampspoedige oorstromings wat in Denver en ander informele nedersettings reg oor die Stad Johannesburg voorgekom het. Die oorlewendes van die Marshalltown-brand, waarin 77 mense dood en talle beseer is, word deur nóg ‘n tragedie in die gesig gestaar. Hulle is na die Denver informele nedersetting verskuif waar hulle nou deur oorstromings getref is. Die leier van die organisasie, Mametlwe Sebei, eis dat stadsamptenare aanspreeklik gehou word vir die sogenaamde onmenslike behandeling van mense:
# Twee groepe wat mediese hulp verleen, het Sondag aangekondig hulle onttrek hulle aan ʼn hospitaal in sentraal-Gaza en voer toenemende Israelse militêre aktiwiteit in die gebied aan as rede. Die Internasionale Reddingskomitee sê in ʼn verklaring sy mediese noodspan moes aan die Al Aqsa-hospitaal in die stad onttrek nadat Israel se weermag pamflette in sentraal-Gaza versprei het om Palestyne te waarsku om skuilings in die gebied te verlaat. Medical Aid for Palestinians het ook aangedui dat hulle uit die Al Aqsa-hospitaal onttrek. Dit volg nadat Doctors Without Borders Saterdag gesê het sy personeel en hulle gesinne gaan die fasiliteit verlaat.
# Sokker: Liverpool het twee keer na aan die einde van hul kragmeting met Arsenal in die Emirates-stadion doele aangeteken met 2-0 na die vierde ronde van die FA-beker-toernooi deurgedring. Arsenal het duur betaal vir verskeie verbeurde kanse om doele aan te teken. Hul oorwinning is in die laaste sekondes van die wedstryd verseël met ‘n doel van Luis Diaz wat die bal by Arsenal se doelwagter, Aaron Ramsdale, verbygestuur het. Liverpool se bestuurder, Jürgen Klopp, het sy tevredenheid met sy span uitgespreek:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-26-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte, Oppenheimer het die meeste toekennings by die Golden Globe-toekennings opgeraap toe hy vyf toekennings ingepalm het, insluitend erkenning vir Beste Fliek. Cillian Murphy en Robert Downey Jr is albei vir hul toneelspel bekroon, terwyl Christopher Nolan as beste regisseur aangewys is. Succession het die meeste toekennings in die TV-afdeling ontvang ná sy hoogaangeskrewe vierde en laaste reeks. Sarah Snook, wat die rol van Shiv Roy vertolk, is bekroon as beste aktrise in ‘n hoofrol in ‘n TV-drama, met Kieran Culkin as beste akteur in ‘n hoofrol. Barbie het intussen die eerste loket-toekenning ontvang nadat hy 26-miljard rand wêreldwyd gemaak het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….