Nuus 12:00
BULLETIN 3 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog tydelike trekarbeiders is afgedank
# Suid-Afrika is gevra om voor te berei namate die bedreiging van ‘n kragtige El Niño toeneem
# En rugby: Die Junior Bokke klop Georgië en bly onoorwonne in die Junior Wêreldkampioenskap
# Die Advieskantoor vir Tydelike Werkers is oorval met oproepe van trekarbeiders wat na bewering ontslaan, gedreig of wie se regte misken is terwyl teenstand teen immigrante in werksplekke toeneem. Woordvoerder Connie Masekwameng sê sommige werkers is aangesê om nie terug te keer werk toe ná Dinsdag se landwye optogte teen immigrante nie. Hy het werkers wat ontslag, intimidasie of diskriminasie ondervind, aangeraai om die organisasie onmiddellik te kontak vir ‘n regsmening:
# ActionSA het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, en die voorsitters van portefeuljekomitees wat toesig hou oor departemente gelei deur DA-ministers of adjunkministers, gevra vir ‘n dringende ondersoek na ernstige bewerings oor Resolve Communications se toegang tot lede van die uitvoerende gesag. Woordvoerder Leato Ngobeni sê bewerings van die voormalige DA-leier John Steenhuisen en oudminister Dion George toon dit strek verder as enkele ontmoetings en regverdig ‘n omvattende parlementêre ondersoek:
# Suid-Afrika word aangemoedig om sy rampgereedheid te versterk, met kenners wat waarsku ‘n kragtige El Niño-weerpatroon is besig om te ontwikkel. Wetenskaplikes sê die verskynsel kan ernstige droogte, watertekorte, oesverliese en hoër voedselpryse meebring. Die onlangse La Niña-seisoene het wel broodnodige vog aan grondtoestande verskaf, maar kenners waarsku die land moenie oorgerus wees nie. Vroeë beplanning, verbeterde waterbestuur en ondersteuning vir kwesbare gemeenskappe is uiters belangrik voor toestande vererger.
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump sê dis belaglik dat Amerika sy eensydige verhouding met die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie voortsit. Hy het Europese bondgenote herhaaldelik gekritiseer oor hul optrede tydens die oorlog met Iran. Verskeie lande het beperkings geplaas op die gebruik van hul militêre basisse deur Amerikaanse magte. Trump sê in ‘n plasing op Truth Social, Washington se verhouding met NAVO is nie wedersyds voordelig nie, aangesien hulle meer as ander lidlande belê. NAVO het verlede jaar ingestem om teen 2035 verdedigingsverwante besteding tot vyf-persent van lede se bruto binnelandse produk te verhoog.
# Rugby: Die verdedigende kampioen, Suid-Afrika, is steeds op die wenpad op die Junior Wêreldkampioenskap na hulle die gasheer, Georgië, 33-5 verslaan het in Tbilisi. Siphosethu Mnebelele het twee van die Junior Springbokke se vyf drieë gedruk. Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland en Wallis het ook oorwinnings behaal in die tweede ronde van groepswedstryde. Die Bokke se afrigter, Kevin Foote, het sy span se selfbeheersing en volwassenheid teen die fisiese Georgië geloof:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-711-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-182-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….