Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Health Funders Association het ‘n alternatiewe model vir Nasionale Gesondheidsversekering voorgestel. Die vereniging sê dit is ‘n vinniger, bekostigbare en minder gevaarlike roete om universele gesondheidsdekking te bereik. Die koerant skryf die vereniging het vroeër die week regstappe teen die NGV-wet gedoen.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “THE FUNDING FREEZE”. Die koerant skryf oor die opskorting van Amerikaanse befondsing se ingrypende uitwerking op gesondheid.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n debat wat deur die MK-party in die Nasionale Vergadering aangevra is oor die land se energiekrisis, het in die party se gesig ontplof toe die ANC die party daaraan herinner het dat die krisis ontstaan het toe die MK-leier Jacob Zuma aan die stuur van sake was.
Dan skryf die webblad dit het aan die lig gekom dat gerugte dat die AARTO-verkeersbestuurstelsel op 1 Oktober in werking tree fopnuus is. Die woorvoerder van die Padverkeeroortredingsagentskap, Monde Mkalipi het gesê die publiek moet bedag wees op vals nuus.
En laastens is daar nuus oor Gauteng se nuwe nommerplate. Dit sal egter eers oor ‘n jaar beskikbaar wees.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Lei met: “DID MARCUS JOOSTE REALLY DIE? NATION SPECULATES”. Die koerant skryf dit is meer as ‘n jaar sedert die geheimsinnige dood van voormalige Steinhoff-uitvoerende hoof, Markus Jooste. Tog bly vrae rondom die omstandighede van sy afsterwe onbeantwoord, wat kommer laat ontstaan oor die owerhede se gebrek aan deursigtigheid.
# Sowetan:
Berig ‘n diensverskaffer in die sekerheidsbedryf wat opleiding aan sowat ses-duisend-500 beamptes moes verskaf, het verdwyn. Volgens die koerant is sowat 100-miljoen-rand op die projek vermors.
# En The Citizen:
Skryf die uitbreking van bek-en-klouseer en die staking van hoenderinvoere van Brasillië kan ‘n krisis in die Suid-Afrikaanse vleisbedryf tot gevolg hê. Pryse wat die hoogte inskiet sal die armste mense die swaarste tref.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die kabinet van die regering van nasionale eenheid het reeds 200-miljoen-rand se belastinggeld aan reiskoste bestee. Die minister van Sport Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê die wanpersepsie bestaan dat sulke besoeke vakansies is. Hy sê daar word belangrike werk gedoen.
Dan skryf die koerant oor die 74-jarige Louis Massyn van George wat van plan is om Sondag sy eerste Comrades-marathon te voltooi.
En laastens is daar nuus oor die skandering van die 275-miljoen-jarige fossiel bekend as Pamela by Spies Radiologie in Bloemfontein.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die hele gemeenskap van Kariega is geruk nadat dit aan die lig gekom het dat Goodyear SA besluit het om sy aanleg te sluit, met ‘n moontlike verlies aan 907 werksgeleenthede.
En tweedens skryf die koerant ‘n tweede poging om die 2025/2026-begroting vir die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit goed te keur, was onsuksesvol weens vertragings in die geïntegreerde ontwikkelingsplan.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die kommerwekkende uitbreking van bek-en-klouseer wat volgens kenners die hele beesvleisbedryf gaan raak.
En tweedens word berig alles is gereed vir die Comrades-marathon.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Werke en Vervoer het oorlog verklaar teen die onwettige besetting van regeringswoonstelle.
Dan skryf die koerant Swakopmund se munisipale ruskamp, die bekende A-raam huisies, het so verval dat dit nou ’n strukturele en operasionele risiko inhou.
En laastens word berig ‘n agt maande oue babaseuntjie met ‘n seldsame breintoestand het danksy die ingryping van ‘n weldoener uiteindelik die operasie gekry waarvoor hy vir maande in ‘n staatshospitaal gewag het.