Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Suid-Afrikaanse Mediese Toestelbedryfvereniging het sy kommer uitgespreek oor die regering se versuim om sy lede se rekeninge betyds te betaal en gewaarsku dat klein firmas toenemend huiwerig is om die staat te voorsien. Teen die einde van Mei het die skuldverpligting op 1,4-miljard-rand gestaan.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig meer as 32-duisend weerlose kinders in die Wes-Kaap leef nou sonder maatskaplike dienste. Dit is die gevolg van president Donald Trump se besluit om hulptoelaes te staak. Die koerant skryf nagenoeg vyf-duisend-200 van die kinders het MIV/vigs onder lede.
Dan skryf die webblad gemoedere het gister tot uitbarsting gekom in die Hooggeregshof in Johannesburg nadat die uitspraak teen Amber Lee Hughes voorbehou is. Sy word aangekla van die moord op die vierjarige Nada-Jane Challita.
En laastens word berig oor die 36-jarige Lily van Heerden van Bloemfontein wat deur haar suster se hond in die gesig gebyt is toe sy dit na bewering probeer streel het. Sy is in die Universitas-hospitaal opgeneem.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die burgemeester van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, Lerato Maloka is ongedeerd nadat sy en haar motorbestuurder ontvoer is. Dit hou volgens bronne verband met ‘n inligtingsessie waartydens sy aangekondig het dat sy die Gautengse provinsiale regering versoek het om ‘n ondersoek na korrupsie binne die munisipaliteit van stapel te stuur.
# Sowetan:
Berig die Gautengse Onderwysdepartement het opgehou om die munisipale rekeninge van skole in arm gebiede waar nie skoolgeld gehef word nie, te betaal. Van die skole se kragtoevoer gaan nou afgesny word.
# En The Citizen:
Skryf oor ‘n man wat dringend ‘n operasie moet ondergaan om ‘n kankergewas te verwyder om sy lewe te red. Sy kanse op oorlewing is egter skraal aangesien daar 36-duisend kankerpasiënte op die waglys is in Gauteng.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die Wes-Kaapse kinders wat nie maatskaplike dienste ontvang nie.
Dan het die koerant met ‘n ooggetuie gepraat wat gesien het hoe ‘n 59-jarige vrou tydens ‘n wedloop in Kaapstad dood is toe ‘n eikeboom op haar geval het.
En laastens word berig ‘n man wat tientalle giftige adders in sy bagasie op ‘n lughawe in Mumbai gehad het, is in hegtenis geneem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig gemoedere het gister hoog geloop op die eerste dag van die geregtelike ondersoek na die dood aan die hand van die veiligheidspolisie van die sogenaamde Cradock Vier 40 jaar gelede.
En tweedens skryf die koerant die Rosedale-kliniek is gister gesluit as gevolg van ‘n gemeenskapsbetoging teen die vakatures by die kliniek wat dienslewering beïnvloed.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oupresident Jacob Zuma sal Donderdag weer in die hof verskyn vir twee sake wat verband hou met die wapentransaksie-korrupsieverhoor.
En tweedens word berig die Moslems wat vetrek het op die pelgrimstog na Mekka gaan gebuk onder ‘n uiterste hittegolf.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Binnelandse Sake, Immigrasie, Veiligheid en Sekuriteit het nie op navrae gereageer oor die verbetering van die vermoë om visums by lughawens te verwerk nie. Dit volg ná bewerings van lang wagtye by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe.