Nuus 11:00
BULLETIN 6 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Modise sê politieke party word nie toegelaat om Suid-Afrika se grense te beheer nie
# Twee verdagtes in drie-dubbele moordsaak in Gugulethu vrygelaat
# En, Krieket: Australië maak skoonskip in Sidney
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, sê politieke partye word nie toegelaat om die beweging van onwettige immigrante by die land se grense te beheer nie. Modise het die media ingelig oor grensbeheer en aangeleenthede wat met die SANW verband hou. Sy het die Patriotic Alliance se patrollering van die Limpopo-grens veroordeel. Die minister sê die patrollering van die landsgrense is die werk van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die Polisie en die Grensbestuursowerheid:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê die twee verdagtes wat vir die drie moorde op Nuwejaarsaand in NY-137 in Gugulethu, Kaapstad gearresteer is, is weens beweerde growwe nalatigheid aan die kant van die Suid-Afrikaanse Polisiediens vrygelaat. Die polisie het die twee vroeg Woensdagoggend in Goodwood en Blue Downs in hegtenis geneem. Na wat berig word was die slagoffers in ‘n voertuig wat besig was om iemand af te laai toe ‘n ander voertuig te voorskyn gekom het en verskeie skote gevuur is. Allen sê nóg inligting moet van die SAPD verkry word:
# Vyf provinsiale Onderwysdepartemente het nie voldoen aan hulle teikens vir die bou van koshuise by skole tussen April 2022 en Maart verlede jaar nie. Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap het daarin geslaag om een nuwe koshuis te bou, terwyl Noodwes net drie opgerig het teenoor die teiken van vyf. Die Vrystaat was van plan om drie koshuise te bou, maar net een is voltooi. Die jaarverslae van die departemente onthul die tekortkominge, met redes soos vertragings, gemeenskapsonluste en kontrakkansellasies wat bygedra het dat teikens nie bereik is nie.
# Krieket: David Warner het 57 lopies in sy laaste beurt vir Australië aangeteken om die gashere te help om die toetsreeks teen Pakistan in Sidney met 3-0 in sy guns te beklink. Marnus Labuschagne, met sy 19de toets-vyftigtal op 62 en Steve Smith op vier, het tot die einde gekolf toe die Australiërs die teiken van 130 lopies behaal het, met slegs twee paaltjies plat. Pakistan het die vierde dag se spel op 68 vir die verlies van sewe paaltjies begin en is almal vir 115 uitgehaal. Josh Hazlewood het vier paaltjies ingeoes en Nathan Lyon drie, om ‘n maklike oorwinning aan die gashere te besorg.
# En om mee af te sluit: ‘n Familie van Kaapstad bied ‘n belong van 200-rand aan vir die terugvind van hulle dogtertjie se gunsteling speelding. Die driejarige Ziyah Jacobs het haar geliefde pers teddiebeer verloor tydens die stad se tradisionele Tweede Nuwejaarfees, en sy is van toe af ontroosbaar. Haar ouma, Juleiga Rorich, sê die kleuter het die speelding behandel soos ‘n lewende wese. Hulle het dit in Strandstraat verloor tydens die geroesemoes van die fees, en ‘n uitgebreide soektog het niks opgelewer nie. Rorich pleit by mense om te help om die beertjie en Ziyah te herenig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….