Nuus 13:00
BULLETIN 1 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwerp Dina Pule se aanstelling as minister van Maatskaplike Ontwikkeling
# ‘n Hof beslis Matlala se pleitooreenkoms is te toegeeflik
# En sokker: Nederland se afrigter bedank nadat sy span uit die Wêreldbeker geskakel is
# Die DA verwerp president Cyril Ramaphosa se besluit om Dina Pule as minister van Maatskaplike Ontwikkeling aan te stel en sê haar reeks skandale sluit in beskuldigings dat sy kontrakte na haar kêrel herlei en regeringshulpbronne misbruik het. Pule was van Oktober 2011 tot Julie 2013 minister van Kommunikasie. Die DA-lid, Nazley Sharif, sê Ramaphosa stel die belange van die ANC-Vroueliga bo dié van miljoene Suid-Afrikaners wat staatmaak op maatskaplike toelaes:
# Die Handelsmisdaadhof in Pretoria het die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala se pleitooreenkoms van agt-jaar tronkstraf vir bedrog, korrupsie en geldwassery verwerp. Dit handel oor die Medicare24-tender van 228-miljoen-rand. Landdros Ignatius du Preez beskryf Matlala as die baasbrein van die operasie en wonder of sy samewerking opregte berou is of ‘n poging om ‘n ligter vonnis te verseker. Hy het tronkstraf van 12-jaar voorgestel, onderhewig aan beraadslagings tussen die staat en verdediging:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het amptelik volle bedryfs-verantwoordelikheid aanvaar vir die Mangaung-korrektiewe sentrum in Bloemfontein in die Vrystaat. Die sentrum was in die nuus ná die ontsnapping van die veroordeelde moordenaar en verkragter, Thabo Bester, in Mei 2022. Dit is nou bekend as die Grootvlei-maksimum korrektiewe sentrum, en sal die Vrystaat en die Noord-Kaap dek. Woordvoerder Singabakho Nxumalo sê die oornameproses is reeds die afgelope twee jaar aan die gang:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het verlede jaar meer as 16,4-miljard-rand verdien deur ‘n reeks kriptogeldeenheid-bates, tantième-betalings en eiendomsbeleggings. Sy jongste jaarlikse finansiële openbaarmaking toon dat hy meer as 10,4- miljard-rand verdien het uit verkope van aandenkings-meme-munte met sy gesig daarop. Trump het ook ‘n inkomste van meer as 8,2-miljard-rand aangemeld uit verkope van kriptogeldeenheid-kentekens wat verbind word met die maatskappy World Liberty Financial, wat gedeeltelik deur sy seuns bestuur word. Die Withuis het ten sterkste bewerings ontken dat Trump se finansiële belange met sy amp bots.
# Sokker: Ronald Koeman het bedank as hoofafrigter van Nederland nadat sy span uit die Wêreldbekertoernooi geskakel is. Die naaswenner van 2010 het in Monterrey, Mexiko, met strafskoppe teen Marokko verloor. Justin Kluivert, Quinten Timber en Crysencio Summerville het daarna onder rassistiese aanmerkings op sosiale media deurgeloop omdat hulle hul skoppe misgeskop het. Die 63-jarige Koeman het in 2023 vir ‘n tweede tydperk as afrigter by Nederland aangesluit na hy hulle van 2018 tot 2020 afgerig het. Hy het gesinspeel dat sy afrigters-loopbaan moontlik nou op ‘n einde is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-901-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-978-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….