Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Reserwebank het gister die repokoers met 25 basispunte tot 7,25-persent verlaag. Die koerant skryf dit plaas die koers in lyn met markverwagtinge te midde van gedempte inflasie en trae groeivooruitsigte.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die DA verskerp sy oproepe om polisiëring in die Wes-Kaap oor te neem.
En tweedens gee die koerant ‘n volledige oorsig oor die Joshlin Smith-saak.
# En die Netwerk24-webblad:
Lei met die vonnisoplegging in die Joshlin Smith-saak. Die webblad berig Joshlin se twee oumas, Amanda Smith-Daniels en Rita Yon het mekaar omhels nadat die drie veroordeeldes lewenslange vonnisse ontvang het.
Dan word berig die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni sê die ANC is gelukkig met die herstel van strategiese bande met die VSA ná president Cyril Ramaphosa se besoek aan president Donald Trump.
En laastens skryf die webblad oor die dood in ‘n motorongeluk van ‘n honneursstudent van die Noordwes-universiteit, die 22-jarige Leandri Viviers van Ermelo.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf minute nadat hulle lewenslange vonnisse ontvang het, het die drie veroordeeldes wat skuldig bevind is aan ontvoering en mensehandel in die Joshlin Smith-saak aangedui dat hulle van voorneme is om teen die uitspraak te appelleer.
# Sowetan:
Berig die afspraakmoord op Olorato Mongale het opnuut die soeklig laat val op geslagsgeweld. Aktiviste sê daar moet ondersoek ingestel word na die motivering van die geweldenaars.
# En The Citizen:
Lei met: “TELL US: WHERE’S JOSHLIN?” Die koerant skryf dit is die laaste vraag wat nog oorbly.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Staan sy hele voorblad af aan ‘n fotobeeld oor die vonnisoplegging in die Joshlin Smith-saak. Die koerant berig geregtigheid het geskied.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit gaan voort met planne om die elektrisiteitsprys vanaf 1 Julie met meer as 12-persent te verhoog.
En tweedens skryf die koerant tien jaar nadat die Gqeberha-aktivis Lindsay Ziehl die gesogte Most Excellent Order of the British Empire ontvang het, is sy weer in die koninklike soeklig.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf voedselpryse is besig om te styg as gevolg van die jongste uitbreking van voëlgriep.
En berig Meta het ‘n Facebook vir tieners bekendgestel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die twee moordenaars van die bejaarde Botma-egpaar van Koës is lewenslank tronk toe gestuur. Die regter het gesê die voorkoms van geweldsmisdade raak al hoe meer algemeen.
En skryf tweedens ná die jongste voorval waarin vier renosters in Hardap gestroop is, is daar vanjaar reeds 18 renosters vir hul horings afgemaai.