Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau se besluit om ‘n konsortium te kies onder leiding van KwaZulu-Natalse sakelui Moses Tembe en Sandile Zungu as die voorkeurbieër vir die winsgewende agt-jaarlisensie om die nasionale lotery te bedryf sal waarskynlik in die hof betwis word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die onskuldigbevinding van die Matie-student, Theuns du Toit vir die urineervoorval by die universiteit het volgens die konvokasie ernstige vrae laat ontstaan oor die universiteit se tugproses.
Dan skryf die webblad met die vonnisoplegging van die drie veroordeeldes in die Joshlin Smith-saak vandag is die hof gister aangegryp deur video’s van ‘n gelukkige Joshlin waar sy onder meer in die see baljaar.
En laastens word berig president Cyril Ramaphosa het dit duidelik gestel dat niemand vir die sing van die Kill the Boer-liedjie in hegtenis geneem sal word nie.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig Johannesburg se middestad wat eens ‘n dinamiese gebied vir finansies en handel was, worstel nou met ‘n kommerwekkende toename in misdaad. Die stad het egter gister nuwe planne aangekondig om die misdaadvlaag aan te pak.
En tweedens skryf die koerant die uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo is geskors weens ‘n verskeidenheid van beweerde oortredings. Volgens ingeligtes hou die stap egter ook verband met politieke agendas.
# Sowetan:
Berig meer as die helfte van Gauteng se vullisverwyderingsvragmotors is buite werking. In die geval van Ekurhuleni het die metro nou privaat maatskappye se hulp ingeroep om vullis te verwyder.
# En The Citizen:
Skryf ook oor die Joshlin Smith-saak en lei met: “HOW CAN YOU LIVE WITH YOURSELF?” Die koerant berig Joshlin se ma Kelly het nog glad nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat gebeur het nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die 32-jarige Kim Towne van Kaapstad is in Virginië in die VSA vermoor. Haar man, die 32-jarige Alexander Towne, het homself aan die polisie oorgegee. Kim se ma, Beulah White, sê daar was probleme tussen haar dogter en skoonseun.
Tweedens skryf die koerant mediese toerusting insluitend krukke steeds in verpakking, ongebruikte rolstoele en looprame vir beide volwassenes en kinders is by ‘n skrootmetaalhandelaar in Kariega ontdek.
En laastens is daar nuus oor ‘n gesin van Constantia wie se hond betyds alarm gemaak het oor ‘n pofadder op hul stoep.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die GOOD-raadslid Lawrence Troon se mosie van wantroue in Nelson Mandelabaai se politieke leierskap, kan veranderinge in die koalisie meebring. Onlangse sterftes van wyksraadslede kan die uitslag beïnvloed indien ‘n stemming gehou word.
En tweedens skryf die koerant ook oor die mediese toerusting wat by skrootmetaalhandelaar in Kariega ontdek is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die hofsaak oor die wettigheid van die erkenning van koning Misuzulu as Zoeloe-monarg. Die president se regspan voer aan dat die aanwysing in lyn is met gewoontereg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig weens voortdurende opknapping aan pyplyne in Tsumeb, is inwoners in kennis gestel dat sekere gebiede van dié dorp steeds deur ‘n onderbreking in watertoevoer geraak sal word.
En tweedens skryf die koerant ná die jongste voorval waarin ‘n kalf met ‘n spies gewond is in die Omaruru-omgewing, het die plaaslike boerevereniging gewaarsku dat die stygende misdaad in die gebied die voortbestaan van die wild- en veebedryf bedreig.