Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Mei 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig president Cyril Ramaphosa het swart ekonomiese bemagtiging tydens vraetyd in die Parlement verdedig. Hy sê dit is bedoel om deelname aan die land se ekonomie te verbreed om die voorheen benadeeldes in te sluit. Dit moet die wit oorheersing van die ekonomie regstel en swart deelname verhoog.

# En die Netwerk24-webblad:

Lei met die onskuldigbevinding van die Matie-student Theuns du Toit aan crimen injuria nadat hy in 2022 op ‘n medestudent se besittings geürineer het. Die hof het bevind dat Du Toit geen kwaadwillige bedoelings gehad nie.

En tweedens berig die webblad Ruan Beetge wat van die moord op Brandon Pretorius buite die Malboer-kuierplek in Boksburg aangekla word, moet volgens die staat nie borgtog ontvang nie want hy het ‘n geskiedenis van geweld.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf Ramaphosa bevind homself in ‘n storm na sy veelbesproke reis na die Verenigde State verlede week. Die besoek het volgens kritici, minder oor diplomasie en meer oor die verslapping van regulasies gegaan sodat die miljardêrs Elon Musk en Johann Rupert die winsgewende Starlink-ooreenkoms kan bespoedig.

# Sowetan:

Staan sy hele voorblad af om hulde te bring aan die akteur, Presley Chweneyagae, wat gister oorlede is.

# En The Citizen:

Skryf die minister van Kommunikasie, Solly Malatsi het deurgeloop onder die kritiek van parlementslede oor die voorgenome Starlink-projek. Die koerant berig die LP’s wou weet of internasionale maatskappye nou in beheer is van Suid-Afrika.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met die onskuldigbevinding van Theuns du Toit.

Dan word berig nadat die Stad Kaapstad duisende besware teen sy planne om nuwe tariewe in te stel ontvang het, gaan hy nou ‘n nuwe weergawe van sy begroting ter tafel lê.

En laastens is daar nuus oor die soektog na die persoon wat die Powerball-boerpot van 68-miljoen-rand gewen het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ‘n groep buitelandse burgers het buite ‘n polisiestasie in Addo saamgetrek nadat hulle onder aanvalle van die gemeenskap deurgeloop het oor die dood van ‘n inwoner buite ‘n plaaslike taverne die naweek.

En tweedens skryf die koerant oor die voormalige Humansdorp-aanklaer, Vicky Rossouw wat ‘n skadevergoedingseis van nege-miljoen-rand teen die staat instel. Sy is in hegtenis geneem nadat sy na bewering versuim het om die seksuele aanranding van ‘n kind aan te meld.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf president Ramaphosa maak gereed om belangrike projekte aan te kondig.

En berig tweedens Suid-Afrika is besig met voorbereidings vir die G20-beraad.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ‘n 70-jarige inwoner van Swakopmund is tydens ‘n gewapende rooftog deur vier gemaskerde mans by sy huis in Swakopmund se Vogelstrand met ‘n mes gesteek. Sy vrou is vasgebind. Die polisie sê die aanval het plaasgevind toe die man na die kombuis gegaan het om koffie te maak en die huis se alarmstelsel afgeskakel het.

En tweedens skryf die koerant die minister van Werke en Vervoer, Veikko Nekundi, het bevestig dat dekades oue vervoerpermitbeleide die middelpunt is van groeiende onrus in Walvisbaai se taxibedryf.