Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Mei 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gaan sowat een-duisend-700 skuldinvorderaars in diens neem in ‘n poging om die byna 400-miljard-rand se onbetwiste skuld op sy boeke in te vorder. ‘n Verdere bedrag van sowat 100-miljard-rand word tans betwis.

# En die Netwerk24-webblad:

Lei met die begrafnis van die oud-Springbok Cornal Hendricks in Wellington die afgelope naweek. Talle Bokspelers het die geleentheid bygewoon en daar was ook videoboodskappe van diegene wat nie in persoon hulde kon bing nie.

Dan skryf die webblad ‘n vrou van Leipoldtville naby Lambertsbaai, Beatie Strauss het ‘n nier geskenk wat haar man Boeta se lewe gered het.

En laastens is daar nuus oor Mej Wêreld Suid-Afrika, Zoalize Jansen van Rensburg se rok wat by die internasionale kompetisie in Indië as die beste in Afrika aangewys is.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf wat veronderstel was om die eerste bank in swart en vroulike besit te wees, se toekoms is nou duister. AFRIBIZ Financial Services doen regstappe teen YWBN Co-Operative Financial Institution en sy stigter, Nthabeleng Likotsi, na ‘n mislukte aandeletransaksie van nege-miljoen-rand in die omstrede YWBN Mutual Bank.

En tweedens berig die koerant die vrou van die diamanthandelaar Louis Liebenberg, Dezzi Liebenberg, se appèl teen haar borgtogweiering is van die hand gewys.

# Sowetan:

Berig ‘n Johannesburgse regsgeleerde, advokaat Arnold Mkhabela se luukse motors word deur Standard Bank in beslag geneem nadat hy na bewering nie sy skuld kon betaal nie. Dit volg nadat die Padongelukkefonds aangekondig het dat hy Mkhabela ondersoek.

# En The Citizen:

Skryf opposisiepartye is ongelukkig oor die regering se besluit om die toepassing van bemagtigingsregulasies te verslap om Starlink in die land toe te laat.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei ook met Cornal Hendricks se begrafnis.

En tweedens skryf die koerant ook oor Beatie Strauss se nierskenking.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig ‘n uitgelekte interne verslag dui op wydverspreide korrupsie, sabotasie en bedrog by Nelson Mandelabaai se munisipale vlootdepots.

En tweedens skryf die koerant ‘n betoging teen dieremishandeling by ‘n sirkus in Gqeberha het gewelddadig uitgedraai en ten minste een betoger is in die Life St George’s-hospitaal opgeneem.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar heers ‘n hongersnoodkrisis onder die kinders van KwaZulu-Natal.

En berig die regering het die deur oopgemaak vir Elon Musk se Starlink.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Daar is as gevolg van die herdenking van Afrika-dag geen uitgawe van die koerant vandag nie.