Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Nissan oorweeg dit om sy Suid-Afrikaanse monteeraanleg in Rosslyn te sluit, ‘n stap wat ‘n reuse-uitwerking op die land se vervaardigingsektor sal hê. Die koerant skryf dis deel van die Japannese motorvervaardiger se wêreldwye herstelplan wat insluit dat personeel met 20-duisend verminder word en die konsolidasie van sy produksieaanlegte van 17 tot 10 oor die volgende twee jaar.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig kenners is van mening hoewel nie almal gelukkig is met die span wat met president Donald Trump gaan vergader nie, is dit die beste wat Suid-Afrika in hierdie stadium kan bied. Die span sluit ook sakelui in. Dit is verteenwoordigend van die regering van nasionale eenheid.
Dan skryf die webblad oor die vliegtuigongeluk by die Middelburg-vliegveld in Mpumalanga wat Sondag die lewens van Quintin en Lezette Steyn geëis het. Hulle laat twee dogters van onderskeidelik agt- en 15-jaar agter.
En laastens is daar nuus oor die Russies-Oekraïnse-konflik waar president Vladimir Putin oplaas ingestem het om deel te neem aan vredesamesprekings.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig die Palm Ridge-landdroshof is weereens in die kollig, nie vir geregtigheid nie, maar vir ‘n krisis van beweerde korrupsie, intimidasie en mislukte dienslewering wat Suid-Afrikaners ontnugter en ontmagtig laat.
En tweedens skryf die koerant Johannesburg is besig om voor te berei vir ysige weersomstandighede.
# Sowetan:
Berig oor die gewelddadige betogings in Diepkloof, Soweto gister oor die privaat eienaarskap van die hostel. Twee mense is in die betoging dood. Daar heers volgens die koerant grootskaalse verwarring oor die toekoms hostel.
# En The Citizen:
Skryf oor die DA-leier John Steenhuisen se dilemma as deel van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na Trump. Gaan hy die afvaardiging se eenheid steun of uitsprake maak oor die land se rasbeleid?
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Suid-Afrika se span om met Trump te vergader.
En tweedens skryf die koerant vier verdagtes is in hegtenis geneem vir die ontvoering van en moord op ‘n man van Kraaifontein.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Aspen Pharmacare se produksiefasiliteit in Gqeberha gaan moontlik 134 poste skrap as regstreekse gevolg van kontraktuele ontwrigtings en Amerikaanse regulatoriese kwessies.
En tweedens skryf die koerant die ANC in Nelson Mandelabaai probeer tans soveel moontlik takvergaderings hou voor sy streekskonferensie in Junie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Waarsku sy lesers teen die koue en sneeu wat op pad is die week.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig volgens ‘n verslag van die onderwysministerie is taal, swangerskappe en ver afstande die vernaamste oorsake van die skoolverlating van duisende.
En tweedens skryf die koerant ‘n ma van Rehoboth beweer haar 36-jarige dogter het nie die nodige mediese hulp by ‘n hospitaal in die dorp gekry nie en het in haar arms gesterf.