Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Mei 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Vervoer, Barbara Creecy werk saam met die Tesourie om maniere te vind om privaat beleggers op kort termyn in staat te stel om te belê in die herstel van Transnet se spoorweginfrastruktuur. Sy verwag nuwe privaat vennootskapsooreenkomste sal na verwagting nog 18-24 maande neem om af te handel.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die internasionale status van vlugtelinge en die uitwerking van die Afrikaners se nuwe Groot Trek daarop.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n menseregte-barometer wat G20-lande volgens burgerlike en politieke regte beoordeel plaas Suid-Afrika agtste op die lys saam met lande soos Australië en die VSA.
Dan skryf die webblad ‘n tweede groep Afrikaners is na bewering besig om voor te berei om na die VSA te vertrek. Dit sal binne die volgende paar maande gebeur.
En laastens bring die blad hulde aan die oorlede Springbok-vleuel, Cornal Hendricks.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele beweer die meeste van Suid-Afrika se geweldsmisdaad word agter tralies beplan en georganiseer deur gevangenes wat lewenslange vonnisse uitdien.
En tweedens word berig Unica Iron and Steel bevind homself in ‘n regstryd wat sy voortbestaan bedreig. Dit is ‘n dispuut met die Industriële Ontwikkelingskorporasie van Suid-Afrika aangevuur deur bewerings van immigrasie-oortredings, finansiële wangedrag en wanvoorstelling.
# Sowetan:
Berig ‘n oorlede internskapdokter van die Oos-Kaap, Alulutho Mazwi se versoek vir siekverlof is glo kort voor sy dood deur sy bestuurder geweier.
# En The Citizen:
Skryf die situasie by onderwysinstellings is besig om te versleg omdat skoolhoofde en leerkragte hul poste koop en geen belang het in die welvaart of dissipline van die leerders nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met ‘n huldeblyk aan Cornal Hendricks en berig president Cyril Ramaphosa het ook sy medelye betuig.
Dan skryf die koerant die twee probeerslae om die begroting goedgekeur te kry het die belastingbetaler sowat 1,4-miljoen-rand gekos.
En laastens word berig Eskom het onderneem om sover moontlik die naweek sonder beurtkrag deur te gaan.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Kinderhulplyn in die Oos-Kaap wat veronderstel is om kinders wat geboelie of mishandel word by te staan, lui meestal onbeantwoord.
En tweedens skryf die koerant die haatspraaksaak tussen die voormalige DA-parlementslid, Ronaldo Gouws en die Menseregtekommissie is buite die hof geskik. Hy het ‘n verskoning op YouTube geplaas.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf tegnologiediewe slaan op skole in die provinsie toe.
En berig oor ‘n onwettige sigaretsindikaat wat deur die polisie oopgevlek is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Teenkorrupsiekommissie van Namibië vra meer geld om nuwe poste binne sy gespesialiseerde eenheid teen geldwassery te befonds.
Dan skryf die koerant die watertekorte in Groot Aub is grootliks te wyte aan onwettige waterverbindings. En laastens is daar nuus oor twee diakens van die Rooms-Katolieke Kerk in Namibië wat die voorreg gehad het om deel te wees van ’n saamtrek vir diakens van die kerk in die Vatikaanstad in Rome.