Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Mei 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa sê Eskom se instandhoudingsvertragings het gedaal tot vlakke wat laas in 2023 gesien is. Hy sê dis ‘n neweproduk van ‘n bestuursprobleem en hy het harde en openhartige gesprekke gevoer met die bestuur van Eskom, insluitend die uitvoerende hoof, Dan Marokane.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ‘n parlementslid van die MK-party, Wesley Douglas het in die portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking gesê die feite ondersteun nie die Afrikaner-vlugteling-snert nie. Hy sê misdaad is ‘n Suid-Afrikaanse probleem en witmense word meer beskerm as enige ander groep.

Dan skryf die webblad president Cyril Ramaphosa sal Woensdag met president Donald Trump in die Withuis vergader. Dis nog nie duidelik wie hom gaan vergesel nie.

En laastens word berig die liggaam van die 11-jarige Jayden Lee Meek is op trappe by die Swazi Place-woonkompleks in Fleurhof, Johannesburg gevind. Hy is Dinsdagaand as vermis aangemeld.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf ‘n man wat daarvan beskuldig word dat hy twee brande by die Tembisa-hospitaal gestig het, het die misdaad bely en die sekuriteitshoof van die hospitaal betrek. Die koerant berig dit wek ernstige kommer oor ‘n moontlike toesmeerdery van ‘n groot korrupsie-ondersoek.

En tweedens word berig die vrystelling van die notule van ‘n geslote vergadering tussen die ANC en leiers van die Afrikanergemeenskap het die debat oor rasseverhoudinge opnuut aangewakker. Die koerant skryf kritici het beide kante beskuldig dat hulle verdeeldheid verdiep eerder as om brûe te bou.

# Sowetan:

Berig een van die verdagtes in die moordsaak op ‘n joernalis en sy lewensmaat, Sello Uoane se parool is reeds twee keer in die verlede opgeskort. Die eerste keer vir verkragting en die tweede vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen.

# En The Citizen:

Skryf die minister van Finansies, Enoch Godongwana sê hy is nie van plan om welvaartsbelasting te gebruik om die staat se begrotingstekort aan te vul nie.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig leiers van georganiseerde landbou het by die Nampo-Oesdag by Bothaville in die Vrystaat gesê daar is baie min boere wat belangstel om as vlugtelinge Amerika toe te vertrek.

Dan skryf die koerant die omstrede Kleuterzone-groep se likwidasie is afgehandel.

En laastens word berig die laataansoeke vir toelating tot Wes-Kaapse skole in 2026 sluit môre.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar word ondersoek ingestel nadat die moordverdagte Karen Webb na bewering tydens ‘n tronkgeveg in die gesig geslaan is met ‘n brandblusser en deur ‘n mede-aangehoudene met ‘n skerp voorwerp gesteek is.

En tweedens skryf die koerant Manfred en Leigh Meyer is dood toe ‘n voertuig hulle getref het terwyl hulle met hul hond gaan stap het. Die bestuurder van die voertuig het na bewering beheer daaroor verloor.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli het onderneem om vir die voortbestaan van Ithala-bank te veg.

En tweedens is daar nuus oor ‘n tweeling wat saam hul regsgrade verwerf het.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ‘n wetmaker van die Nasionale Raad, Paulus Mbangu sê die Begrotingswetsontwerp gaan voort om ’n stedelike ontwikkelingsmodel te ondersteun wat die ongelykhede tussen stedelike en landelike gebiede vererger.

Dan skryf die koerant ses voormalige parlementslede van die Popular Democratic Movement dagvaar die party, die Verkiesingskommissie en die Nasionale Vergadering oor vergoeding van miljoene.

En laastens is daar nuus oor ’n Namibiër se passie vir Afrika-musiek wat gelei het tot die stigting van die African Music Academy of Canada in Edmonton, Kanada.