Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die dramatiese ommeswaai deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana om die BTW-verhoging te skrap, het ‘n groot gat in die land se finansies gelaat, maar het moontlik die verbrokkeling van die regering van nasionale eenheid afgeweer.

# Mail & Guardian op Vrydae:

Lei met: “NO VALUE ADDED”. Die koerant berig die BTW-debakel het die minister van Finansies onder druk, die DA buigsaam en die koalisie wankelrig gelaat. En daar is steeds ‘n rekening van 75-miljard-rand wat betaal moet word.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die kleiner partye in die regering van nasionale eenheid lei nou ‘n aanslag om die DA uit die koalisie te verwyder. Hulle sê die DA wou die regering tydens die BTW-onderhandelinge boelie en nóg die DA nóg die EFF kan aanspraak maak dat hulle die BTW-verhoging afgeweer het.

Dan skryf die koerant president Cyril Ramaphosa se gesprek met president Donald Trump voor president Volodymyr Zelensky van Oekraïne se besoek word as ‘n deurbraak beskryf.

En laastens is daar nuus oor die Bulle se kanse teen Glascow.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf eerstens ook oor die gesprek tussen Ramaphosa en Trump.

En tweedens word berig die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula betwyfel die skietvoorval op adjunkpresident Paul Mashatile se motorkonvooi.

# Sowetan:

Berig die werknemers van Mafoko Security het ‘n groot oorwinning in die hof behaal nadat beslis is daar kan op die bates van die maatskappy beslag gelê word om te verseker die pensioenbydraes word betaal.

# En The Citizen:

Lei met: “HOW DO YOU FILL A R75BN HOLE”. Die koerant kyk na die opsies wat nou vir die regering van nasionale eenheid beskikbaar is.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die regering van nasionale eenheid.

En tweedens word berig die 60-jarige Amanda Jonker is dood en die 58-jarige Kobus Aggenbacht is breindood verklaar nadat ‘n onbekende man Woensdag mense in Milnerton lukraak met ‘n sker aangeval het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig privaat sekerheidsmaatskappye in Nelson Mandelabaai is sterk gekant teen die nuwe regulasies wat die bedryf inperk en in gevaar stel.

En tweedens skryf die koerant die Suid-Afrikaanse musieklegende, die 82-jarige Letta Mbulu, is deur die Nelson Mandela-universiteit vereer met ‘n eredoktorsgraad.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oudpresident Jacob Zuma se stryd om alle aanklagte teen hom te laat terugtrek duur voort. Hy maak staat op twee getuies wat reeds oorlede is.

En berig daar is wydverspreide verligting oor die terugtrekking van die BTW-verhoging.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig president Netumbo Nandi-Ndaitwah se aankondiging tydens haar eerste staatsrede dat tersiêre onderwys vanaf die volgende akademiese jaar ten volle deur die regering gesubsidieer sal word, het gemengde reaksie ontlok.

En tweedens skryf die koerant die Namibië Opleidingsowerheid dagvaar Stad Windhoek vir 51-miljoen-rand se onbetaalde heffings vir beroepsonderrig en opleiding.

Koerantverslag verskyn Dinsdag 29 April weer.