Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig universiteite en navorsingsinstitute het ‘n dringende beroep op die Nasionale Tesourie gedoen vir 150-miljoen-rand in noodfinansiering ter voorbereiding van die vooruitsig dat die Trump-administrasie alle steun aan Suid-Afrikaanse wetenskaplikes onttrek. Die koerant skryf die Tesourie kan die bepalings in die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gebruik om noodfondse beskikbaar te stel.
# Mail & Guardian:
Lei met die opskrif: “GOD EDITION”. Die koerant skryf oor uiteenlopende gebeurtenisse wat met godsdiens te make het of daardeur beïnvloed word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Presidensie is vol vetroue dat die uitlatings oor president Donald Trump deur die Suid-Afrikaanse gesant Mcebisi Jonas nie ‘n negatiewe uitwerking sal hê nie. Die DA en Vryheidsfront Plus sê egter hy moet voor sy vertrek die feit dat hy Trump ‘n homofoob en rassis genoem het, aanspreek.
Dan skryf die koerant die man wat op die kampus van die Walter Sisulu-universiteit in die Oos-Kaap doodgeskiet is, was wel ‘n student. Die universiteit sê hulle het vroeër nagelaat om die feite na te gaan.
En laastens word berig oor ‘n man wat doelbewus deur ‘n onbekende persoon in ‘n Ford Ranger-bakkie doodgery is. Die voorval het in Rivonia gebeur en die bakkie het herhaaldelik oor die man gery.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf ook oor Jonas se uitlatings oor Trump en sê daar bestaan vrese dat dit uit die staanspoor verhoudinge sal versuur.
En tweedens berig die koerant die Wêreldhandelsorganisasie het gewaarsku dat wêreldhandel die jaar met 1,5-persent mag daal as gevolg van Trump se tariewe.
# Sowetan:
Berig die ouers van kinders in Orange Farm, suid van Johannesburg leef in vrees nadat bendes die plaaslike skole oorgeneem het. Drie leerders is reeds doodgeskiet en sommige skole is gesluit. Die Gautengse regering het gevra dat die polisie dringend moet ingryp.
# En The Citizen:
Skryf oor die haglike omstandighede by die Nigel High School waar onderwysers maandeliks drie-duisend-rand moet betaal om dit by die regering te huur. Daar is geen water, krag of toilette nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig volgens die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube is daar tans nagenoeg 31-duisend onderwysposte in Suid-Afrika vakant.
En tweedens skryf die koerant ‘n vrou is aangerand en amper verkrag by Duiwelspiek in die Tafelberg Nasionale Park.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane het ‘n kommerwekkende boodskap van Mercedes-Benz SA se uitvoerende hoof ontvang tydens ‘n vergadering oor die dreigende Amerikaanse tariewe.
En tweedens skryf die koerant oor die dramatiese gebeure tydens die ontsetting van die ontvoerde Amerikaanse pastoor Josh Sullivan.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf een van KwaZulu-Natal se mees gesoekte verdagtes is gearresteer. Linda Hlongwa, ook bekend as “Mjinja” of “Putin”, was vyf jaar voortvlugtig nadat hy versuim het om in Julie 2020 in die hof te verskyn op aanklagte van besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie.
En tweedens is daar ‘n berig oor Pietermaritzburg se Paasnaweek-toerismeplan.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Katutura-gesondheidsentrum is die enigste primêre gesondsorggerief in Katutura wat 24 uur per dag oop is. Die woongebied het sowat 140-duisend inwoners en die sentrum bedien daagliks nagenoeg een-duisend-300 pasiënte.
En tweedens skryf die koerant daar is vrae oor botsende belange nadat die Namibiese Instituut vir Patologie sake begin doen het met ’n behuisingsontwikkelingsmaatskappy waarin sy raadsvoorsitter aandele het.
Die volgende koerantverslag verskyn weer op Dinsdag 22 April.