Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig Mediclinic het nie-noodsaaklike nuwe aanstellings gestaak en skeidingspakkette van nagenoeg twee-miljard-rand aangebied om voorsiening te maak vir die groep se beweging na kunsmatige intelligensie. Die bedryfshoof van die hospitaalgroep, Bertrand Levrat, sê die groep moet aan die voorpunt van veranderings bly om hoëgehaltesorg te lewer.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens oor die 25-jarige Amber-Lee Hughes wat na bewering haar gewese kêrel se dogtertjie, die vierjarige Nada-Jane Challita in ‘n bad water verdrink het. Hughes ontken skuld, maar daar word beweer sy wou haar kêrel, Ellie Challita terugkry.

Dan skryf die webblad die waarde van die rand het verstewig nadat daar die naweek meer politieke sekerheid oor die regering van nasionale eenheid verkry is.

En laastens word berig die vlakke van die Vaalrivier begin daal, maar inwoners van Christiana en Bloemhof het groot skade gely.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf ‘n ondersoek het ‘n beweerde sindikaat aan die lig gebring waarby senior ANC-lede en verdagte buitelandse onderwysinstellings betrokke is om kandidate met minderwaardige kwalifikasies in Suid-Afrikaanse poste aan te stel. Die koerant berig ‘n raadslid van Ekurhuleni, Joe Mojapelo het nou toegetree tot die stryd om die bedrog te ontbloot.

# Sowetan:

Berig nagenoeg 50-persent van die ontvangers van die 370-rand-toelae is nog nie betaal nie. Die rede is hoofsaaklik omdat die ontvangers nie weet hoe om aansoek te doen nie.

# En The Citizen:

Skryf die miljardêr Elon Musk se pa Errol sê president Cyril Ramaphosa het aan Elon geskryf en gevra of hy kan help om die VSA se bande met die land te herstel.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die 35-jarige Shireen Matthews van Strandfontein het in die hof verskyn in verband met die Wynberg-hofsluipmoord. Sy het na bewering lede van die Junky Funky Kidz-bende gehuur om die moord te pleeg.

Dan skryf die koerant die produksiehuis van die hoof van die Kleuterzone Groep, Anthonie Bougas is gister finaal gesekwestreer.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar wag vandag geen verrassings op president Ramaphosa op sy besoek aan Nelson Mandelabaai nie. Die stad is steeds vuil, besig om uitmekaar te val en misdaad dikteer die daaglikse bestaan.

En tweedens skryf die koerant ’n yslike nuwe skip-tot-hawe-hyskraan is gister in die Port Elizabeth-hawe onthul.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf volgens die jongste meningsopnames is die IVP in KwaZulu-Natal besig om steun te werf.

En tweedens word berig ‘n plaaslike begrafnisondernemer het ‘n toekenning ontvang.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die regering wil in die volgende twaalf maande vyf-duisend bekostigbare huise in die informele nedersettings in Khomas bou.

Dan skryf die koerant spanning by die Primêre Skool Auas is naby breekpunt met ’n gemeenskapsaktivis en lede van die /Khomanin Tradisionele Gemeenskap wat dreig om die skool se deure te sluit indien die skoolhoof nie verwyder word nie.

En laastens is daar nuus oor ‘n blinde ma van twee wat in ‘n plastieksak-plakkershut probeer om die pot aan die kook te hou.