Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, oorweeg dit om sy voertuigbedryf-aansporingskema uit te brei om byna 500-miljard-rand van die land se vervaardigingsektor te beskerm teen die Amerikaanse tariewe.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens president Donald Trump het sy wydverspreide internasionale tariewe vir 90 dae op ys gesit om lande die geleentheid te gee om te onderhandel.

Dan skryf die webblad die metaalverklikker in die Wynberghof in Kaapstad is skynbaar buite werking. Dit het aan die lig gekom nadat ‘n moordbeskuldigde in die hof doodgeskiet is.

En laastens is daar nuus oor die voormalige hoofregter Raymond Zondo wat ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang het.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf die tydelike opskorting van Trump se tariewe het wêreldwyd verligting gebring.

En berig daar bestaan kommer dat die regering die BTW-verhoging wil gebruik om die NGV te befonds.

# Sowetan:

Berig duisende leerders in Mpumalanga sit tuis omdat die provinsiale regering 500-miljoen-rand verskuldig is aan vervoer-operateurs.

# En The Citizen:

Skryf oor die voorkoms van selfdood in Suid-Afrika. Veral ouer mense pleeg selfdood en die aantal voorvalle in die kategorie ouer as 50 het met 62-persent toegeneem.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Lei met ‘n ooggetuieverhaal na die skietery by die Wynberghof. Die ooggetuies sê hulle het dadelik op die vloer gaan lê toe hulle die skote hoor.

Tweedens word berig die polisie het op nagenoeg 30-duisend kreefsterte beslag gelê in Bishop Lavis. Die polisie sê ‘n 56-jarige verdagte is by die perseel gearresteer.

En laastens skryf die koerant oor ‘n Leeuloop wat vir Kaapstad beplan word waartydens ‘n bekostigbare woonstel gewen kan word.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die eerste rooigety van die seisoen het in Algoabaai verskyn. Dit bedreig die vislewe en verskaf redes tot kommer oor die vestiging van die akwakultuurbedryf in die gebied.

En tweedens skryf die koerant die polisie blyk so bang te wees vir misdadigers dat al die vensters by die administrasieblok van die New Brighton-polisiestasie toegesweis is.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ‘n pensioenaris van Northdale is doodgeslaan.

En berig die markte loop erg deur onder Donald Trump se instelling van tariewe.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig nóg twee verdagtes in die opspraakwekkende Namdia-diamantrooftog is in Keetmanshoop vasgetrek.

En skryf tweedens die nuwe minister van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming, Mac Albert Hengari het sy top-tien prioriteite vir sy ministerie bekendgemaak.