Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Build One SA, een van die partye wat vir die minister van Finansies, Enoch Godongwana se fiskale beleidsraamwerk gestem het, het ’n BTW-vermydingsvoorstel by die ANC ter tafel gelê. Die partyleier, Mmusi Maimane sê hy het meer as 180-miljard-rand se besparings en nuwe inkomste geïdentifiseer wat op kort tot medium termyn ingestel kan word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die party gaan nie die DA uit die regering van nasionale eenheid skop nie, maar indien hulle besluit om te bly sal hulle moet verduidelik waarom.
Tweedens skryf die webblad die nooddienste in die Nood-Kaap sê hulle is op gereedheidsgrondslag nadat ‘n vyfde sluis van die Vaaldam oopgemaak is. Daar kan oorstromings voorkom.
En laastens word berig die 45-jarige Mariette van der Westhuizen van Orania is ten aanskoue van haar 12-jarige dogter deur haar vervreemde man, Danie doodgeskiet. Hy het daarna selfdood gepleeg.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Het ‘n indrukwekkende voorblad waarop slegs die name van 30 verkragtingslagoffers in swart en rooi verskyn. Die koerant se hoofopskrif is: “SAY THEIR NAMES!”
# Sowetan:
Berig ‘n agtjarige kind van Soweto is in ‘n bedenklike toetstand nadat hy na bewering besmette versnaperinge geëet het wat by ‘n spazawinkel gekoop is.
# En The Citizen:
Skryf Fikile Mbalula het die DA gedreig dat hulle die deur van die RNE sal toemaak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Mbalula.
En tweedens word berig passasiers kan probleme ondervind by die Richardsbaai- en Upington-lughawens asook die Bram Fischer Internasionale Lughawe in Bloemfontein. Die navigasiestelsel voldoen nie aan die tegniese vereistes vir vlieëniers nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die owerhede bestudeer steeds die uitspraak in die vryspreking van pastoor Timothy Omotoso en die skerp kritiek teen die vervolgingspan. Kenners meen egter die staat het ‘n uitdagende taak om Omotoso weer te vervolg.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf twee verdagtes het in die hof verskyn in verband met die moord op ‘n plaaslike skoolhoof.
En berig Facebook stel rekeninge vir tieners bekend.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Internasionale Betrekkinge en Handel sê strafmaatreëls deur die VSA kan lei tot onbillike marktoestande vir Namibiese produkte om regverdig in die Amerikaanse mark mee te ding.
Dan skryf die koerant die groenlig vir Deep Yellow se Tumas-uraanprojek sal vir eers wag totdat wêreld-uraanpryse genoeg styg om nuwe mynprojekte finansieel die moeite werd te maak.
En laastens is daar nuus oor Namibië se grootste dam, die Neckartaldam, wat sy walle oorstroom en die derde grootste, die Nautedam, waarvan die sluise oopgetrek is.