Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig adjunkpresident Paul Mashatile sê die DA se verwerping van die fiskale raamwerk het ‘n presedent geskep vir hoe sy ministers in die regering van nasionale eenheid wetgewing in die toekoms kan benader. Hy sê dit sluit in die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste en die Wetsontwerp op Bewilligings.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig Mashatile sê die enigste manier waarop die DA in die regering van nasionale eenheid kan aanbly, is om vir die begroting te stem.
Dan skryf die webblad die rand het tot sy swakste vlak teen die Britse pond gedaal. Die rand het teen 25-rand-vyf-sent verhandel in reaksie op president Donald Trump se wêreldwye tariewe.
En laastens is daar nuus oor die ontruiming van eiendomme teen die Vaalrivier nadat vyf van die Vaaldam se sluise oopgemaak is.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf Paul Mashatile het die leiding geneem om die DA aan te moedig om sy posisie binne die regering van nasionale eenheid te heroorweeg ná hul weiering om ten gunste van die 2025 nasionale begroting te stem. Die koerant berig die sakesektor oefen ook steeds druk uit op die ANC om die DA te behou.
# Sowetan:
Berig oor die voortslepende taxi-oorlog in Soweto. In die jongste voorval sê getuies dis duidelik die moordenaars het bedoel om taxibestuurders dood te skiet. Een van die verenigings sê hulle het die afgelope tien jaar reeds 63 lede verloor.
# En The Citizen:
Skryf dit lyk of die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse Lugdiens uiteindelik gaan opstyg. Die besprekings staan op 72-persent wat genoeg is om gelyk te breek.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor Mashatile se uitsprake oor die DA.
En tweedens word berig Graeme Pienaar van Gqeberha het terwyl hy besig was om na sy hond se speelding in sy tuin te soek, op ‘n mortier afgekom.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig byna ‘n jaar ná die ineenstorting van ‘n gebou in George, het daar tydens ‘n parlementêre inligtingsessie prosedurele oortredings en ‘n gebrek aan toesig aan die lig gekom wat bygedra het tot die ramp wat 34 lewens geëis het.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n tweejarige seuntjie van Gqeberha wat oor die straat gehardloop het om ‘n suigstokkie in die hande te kry toe hy deur ‘n motor doodgery is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die welkome reën laat damme landswyd oorloop.
En berig internasionale markte is swaar getref deur Donald Trump se tariewe, maar China het besluit om terug te veg.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die inwoners in die noordelike streke gaan gebuk onder die vloedwaters van die “efundja”. Dit is die water wat invloei van Angola ná groot reën.
En tweedens skryf die koerant die grootste dam in Namibië, die Neckartaldam, het invloei van meer as 70,959-miljoen kubieke meter water per sekonde gehad en is nou propvol.