Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die reeks regulasies oor vuurwapengebruik in die privaat sekerheidsbedryf wat deur die minister van Polisie, Senzo Mchunu voorgestel is, kom daarop neer dat die bedryf wat help om misdaad te bekamp ontwapen word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson sê hy is nie afgeskrik deur doodsdreigemente nie en sal voortgaan met die ondersoek na ‘n verdagte suurstoftender ter waarde van miljoene rand.
Dan skryf die webblad president Cyril Ramaphosa sê die sakesektor kan nie aan die regering voorskryf oor die toekoms van die regering van nasionale eenheid nie.
En laastens word berig die nooddienste moes ‘n ambulans uit die vloedwater in Bloemfontein sleep nadat dit vasgeval het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf Zimbabwe se president Emmerson Mnangagwa sê hy sal alle tariewe op goedere wat uit die Verenigde State ingevoer word, opskort. Zimbabwe se vernaamste handelsvennote is die Verenigde Arabiese Emirate, Suid-Afrika en China, en sy beperkte uitvoere na die VSA bestaan hoofsaaklik uit tabak en suiker.
# Sowetan:
Berig daar is ‘n hernude uitbreking van geweld deur taxipatrollies in Mpumalanga. Passasiers word uit privaat vervoer geruk en gedwing om taxis te gebruik. Klagtes wat by die polisie ingedien is, is laat vaar ná dreigemente.
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening die ANC moet vasbyt en die DA in die regering van nasionale eenheid behou ondanks druk uit eie geledere.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n Suid-Afrikaner is dood en nog twee word vermis ná die aardbewing in Mianmar verlede week. Die oorledene is Oliver Chivende en die twee vermiste persone Cowen Reed Titus en Pelontle Gill. Hulle het almal in dieselfde woonstelkompleks gebly,
Tweedens skryf die koerant elektriese fietse sal voortaan gelisensieer moet word.
En laastens word berig kykers is omgekrap omdat SABC2 Saterdagaand geen Afrikaanse nuus uitgesaai het nie. Die uitsaaier het ook geen rede aangevoer nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig volgens ‘n verslag oor die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se elektrisiteit-omkeerstrategie is daar ’n leierskapskrisis in die stad, politieke inmenging en die aanstelling van ongekwalifiseerde personeel wat energiestabiliteit belemmer.
En tweedens skryf die koerant die Oos-Kaapse onderwysdepartement se algemene verbod op alkohol op skoolpersele, is ‘n groot terugslag vir fondsinsamelingsprojekte by skole.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar is ‘n waarskuwing uitgereik oor die uitbreking van hondsdolheid in die Kwazulu-Natalse Middellande.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die polisie in die Erongostreek ondersoek die moord op ses familielede in Usakos wat Saterdag eers doodgeslaan en daarna aan die brand gesteek is. Vier van die slagoffers is kinders.
Dan skryf die koerant twee boere van Outjo het op die pad tussen Outjo en Otavi op sogenaamde bosslagplekke afgekom waar veediewe gesteelde beeste slag.
En laastens word berig ‘n landdros in Keetmanshoop word beskuldig van ‘n konflik van belange.