Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Suid-Afrikaanse aandele het ‘n knou gekry toe die vooruitsig op die ontrafeling van die regering van nasionale eenheid, tesame met toenemende wêreldwye handelspanning byna ‘n duisend-mijard-rand se waarde uitgewis het. Die alle aandele-indeks het met 4,5-persent gedaal, die grootste daling op een dag sedert 2020.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf daar is geen wenners in die begrotingsfiasko nie. Die ANC is besig met geheime ooreenkomste, die DA wend hom tot die hof, die regering van nasionale eenheid is op ‘n breekpunt, Amerika plaas verdere ekonomiese druk en gewone Suid-Afrikaners trek aan die kortste end.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA het nog geen besluit geneem oor sy voortgesette deelname aan die regering van nasionale eenheid nie. Die party se federale raad het reeds oor die kwessie vergader en die vergaderings sal voortduur. Die webblad skryf die ANC-jeugliga sê die DA se ministers moet uitgeskop word.
Dan skryf die blad Hugo Ferreira wat sy babadogtertjie Caithlyn verkrag en vermoor het, is tot twee keer lewenslank gevonnis.
En laastens is daar nuus oor die goeie neerslae oor die Vrystaat en Noord-Kaap die afgelope dae. In sommige gevalle is rekordreënval aangeteken.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die O.R. Tambo Internasionale Lughawe word nou na bewering betrek by ‘n skandaal van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika. Dit gaan oor miljoene rand wat na bewering verkwis is deur onreëlmatige verkrygingsprosesse.
# Sowetan:
Berig die taxi-oorlog in Katlehong het die afgelope maand reeds tientalle lewens geëis. Die polisie het bevestig dat hulle die moorde in die gebied ondersoek, maar die gemeenskap is in rou oor die slagoffers, sommiges tot so jonk as 17 jaar.
# En The Citizen:
Bespiegel oor wat gaan gebeur nadat president Donald Trump se tariewe in werking tree. Het Suid-Afrika planne om die verlies aan 100-duisend werksgeleenthede af te weer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die berig oor die DA se toekoms in die regering van nasionale eenheid.
En tweedens berig die koerant die N2 by Knysna is gesluit toe ‘n vragmotor met plofstof omgeslaan en die lewens van die bestuurder en ‘n passasier geëis het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Amerikaanse tariewe wat verwoesting saai in wêreldwye voorsieningskettings hou ook ‘n bedreiging in vir Suid-Afrika se motor- en landboubedryf en gaan ‘n reuse-uitwerking in die Oos-Kaap hê.
En tweedens skryf die koerant Nelson Mandelabaai se Begrotings- en Tesouriekomitee het ’n Nasionale Tesourie-voorskrif verwerp wat vereis dat die armoedetoelaag verminder moet word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die DA het sy Damaskus-oomblik in die RNE bereik.
En berig oor die dagkliniek wat by die Pietermaritzburg Mediclinic geopen is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig inwoners van die Havana- informele nedersetting sê die bou van ‘n distrikshospitaal in die voorstad was ‘n blote verkiesingsfoefie. Daar was nog geen vordering tien maande ná die sooispitseremonie nie.
Dan skryf die koerant die ma van ‘n seuntjie wat reeds vier jaar vermis word, sê die hartseer is ondraaglik.
En laastens word berig die familie van ‘n eenjarige peuter wat deur sy ma met ‘n mes doodgesteek is, sê hulle sukkel om sy dood te verwerk.