Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 April 2025:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die ANC en die DA was laat gister op die punt om ‘n geskiedkundige ooreenkoms te onderteken om die begroting deur die Parlement goed te keur. Die koerant skryf indien die ooreenkoms gesluit word, sal dit beteken die twee ankerpartye in die regering van nasionale eenheid het die moeilikste toets geslaag sedert die samestelling van die koalisieregering verlede jaar.

# En die Netwerk24-webblad:

Lei ook met die verwagte ooreenkoms tussen die ANC en DA. Die webblad berig onderhandelaars aan beide kante het toeggee dat toegewings nodig is om die ooreenkoms te laat slaag.

Tweedens is daar nuus oor die KKNK wat gisteraand in Oudtshoorn begin het.

En laastens word berig die sewejarige Johandré Blom wat sy arm in ‘n krokodilaanval verloor het, sterk goed aan.

GAUTENG:

# The Star & Pretoria News:

Skryf oor die sewejarige Cwecwe wat na bewering deur die hoof van Bergview College in Matatiele in die Oos-Kaap verkrag is. Die koerant berig die voorval het geslagsgeweld opnuut onder Suid-Afrikaners se aandag gebring.

En tweedens word berig oudpresident Thabo Mbeki het die land se leierskapsvaardighede bevraagteken.

# Sowetan:

Berig die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa het munisipaliteite in KwaZulu-Natal opdrag gegee om verslag te doen oor elke sent wat aan noodleniging bestee word. Die provinsie het 1,4-miljard-rand ontvang.

# En The Citizen:

Lei met: “BUDGET: DO OR DIE DAY”. Die koerant skryf ook oor die verwagte ooreenkoms tussen die ANC en DA.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig ook oor die ANC en DA se verwagte ooreenkoms en Johandré Blom wat goed aansterk.

En dan word berig die Toyota Corolla Cross is deesdae motordiewe se gunsteling. Die Toyota Fortuner was vroeër boaan die lys.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar was gister chaos in Nelson Mandelabaai toe die taxibedryf die vernaamste roetes afgesper het om protes aan te teken teen die stad se swak paaienetwerk.

En tweedens skryf die koerant daar wag donker tye op die stad se inwoners met krag wat met 12,74-persent styg, water en sanitasie met 5,5-persent, eiendomsbelasting met vyf-persent en vullisverwydering met ses-persent.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ook oor minister Hlabisa se voorwaarde oor noodfondse.

En berig die sogenaamde Khanweg-moordenaar wat na bewering ‘n man in Maart in die Khan- informele nedersetting vermoor het, het gister in die hof verskyn.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Hooggeregshof het beslis die staat kan nie meer beslag lê op wettige eiendom wat met onwettige inkomste gemeng word nie. Die besluit het betrekking op die beslaglegging op eiendom wat deur misdaad verkry is.

En tweedens skryf die koerant drie regters het die sogenaamde Swakopmund-slagter, Thomas Florin, se appèlaansoek van die hand gewys.