Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het reeds in 2024 ingestem tot die toepassing van die Wetsontwerp op Waterhulpbron-infrastruktuur. Dit baan die weg vir die stigting van die Nasionale Waterhulpbron-infrastruktuuragentskap, wat verantwoordelik sal wees vir die vaartbelyning van die land se waterhulpbronbestuur, die generering van privaat sektorbeleggings en die verbetering van watergehalte in Suid-Afrika.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die probleem van vermiste kinders in Suid-Afrika. Die koerant berig oor die honderde kinders wat spoorloos verdwyn deur mensehandel, ontvoering en moord.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die Konstitusionele Hof het besluit om nie AfriForum se aansoek om verlof tot appèl teen die Kill the Boer-liedjie toe te staan nie. Die webblad skryf die uitspraak kom te midde van wydverspreide ongelukkigheid dat die EFF-leier, Julius Malema die liedjie op Menseregtedag gesing het.
Dan skryf die webblad die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni sê die kabinet is steeds bekommerd oor die waninligting wat organisasies soos AfriForum, Solidariteit en hul bondgenote oor Suid-Afrika in die buiteland versprei.
En laastens word berig ‘n tweede student van die Noordwes-universiteit in Potchefstroom is in twee dae aan onverklaarbare oorsake dood.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die regering het gerugte verwerp dat meer as 70-duisend kommersiële boere aansoek gedoen het vir president Donald Trump se aanbod vir Afrikaners om as vlugtelinge na die Verenigde State te verhuis. Die regering sê volgens data van AgriSA, StatsSA en die Departement van Landbou het Suid-Afrika net meer as 41-duisend kommersiële boere.
# Sowetan:
Berig ook oor die land se waterkrisis. Die koerant skryf die regering het erken infrastruktuurverwaarlosing, munisipale skuld en misdaad het waterleweringsprobleme vererger wat Ramaphosa genoop het om te vra vir ‘n dringende en hoëvlak- nasionale omkeerplan.
# En The Citizen:
Lei met: “WORLD-CLASS CITY – REALLY?” Die koerant skryf daar bestaan twyfel of Johannesburg reggeruk kan word voor die G20-beraad.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar is in die hof getuig die ma van die vermiste Joshlin Smith het verwoed geskree en gevloek toe sy as beskuldigde in hegtenis geneem is. Kelly Smith het gister tydens die verhoor siek geword en die verrigtinge moes vir twee ure verdaag word.
En tweedens skryf die koerant die leier van die ANC in die Kaapstadse metroraad, Banele Majingo het onverwags bedank en oorgeloop na die DA.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe se plan om ‘n opdrag van die Nasionale Tesourie te verontagsaam deur 2,6-miljard-rand se onreëlmatige uitgawes af te skryf, is deur die ANC en EFF gefnuik.
En tweedens skryf die koerant die Nasionale Vervolgingsgesag het die bedrog- en geldwassery-aanklagte teen sewe voormalige amptenare van die Oostelike Provinsie Rugbyunie teruggetrek.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die aanstelling van die nuwe Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell in Suid-Afrika.
En berig ‘n nuwe reuse-winkelsentrum, Westown Square het in Durban se westelike voorstede geopen.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die nuwe minister van Finansies, Ericah Shafudah het haar nooiensbegroting van 106,3-miljard-rand in die Parlement ter tafel gelê.
En tweedens skryf die koerant die luukse Kalahari Sand Dunes Lodge by Kalkrand wat in ‘n uiters droë streek geleë is, is soos in 2021 weer oorstroom.