Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Maart 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana sal vandag die begroting ter tafel lê en enige onenigheid tussen kabinetslede sal daarna hanteer word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n bekende oudbankier van Somerset-Wes, die 54-jarige Jacques Pretorius is in hegtenis geneem in verband met die moord op sy vrou Sheri-Ann bykans drie en ‘n half jaar gelede. Daar is aanvanklik vermoed sy het selfdood gepleeg.
Tweedens skryf die webblad president Cyril Ramaphosa sê hy is teleurgesteld in AfriForum en Solidariteit oor hul besoek aan die Withuis. Hy sê hulle het onpatrioties opgetree.
En laastens gee die blad besonderhede oor die busongeluk op die R21 naby Kemptonpark gisteroggend waarin 16 mense omgekom het en 40 beseer is.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf Ramaphosa het sy gesprekke met die omstrede Suid-Afrikaans-gebore miljardêr, Elon Musk verdedig. Hy het bevestig hy het Musk in die VSA ontmoet en hulle het samesprekings gevoer oor beleggings. Die president sê die regering ontmoet uiteenlopende persone op diplomatieke gebied.
# Sowetan:
Berig daar was drie ongelukke in 24 uur in Gauteng waarin 22 mense omgekom het. Die koerant skryf die minister van Vervoer, Barbara Creecy gaan dringend met die Gautengse owerhede vergader oor padveiligheid.
# En The Citizen:
Kyk na ‘n scenario waarvolgens president Donald Trump tariewe op Suid-Afrika toepas en of China die land onder sulke omstandighede gaan help.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die arrestasie van Jacques Pretorius.
Dan word berig die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube het in die Parlement gesê die druk op die onderwysbegroting het nog nie daartoe gelei dat enige onderwysers afgedank is nie.
En laastens skryf die koerant die Weerdiens het gewaarsku Kapenaars moet hulself voorberei op ‘n Suidooster van 50 tot 70 kilometer per uur.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Nelson Mandelabaai verloor sy oorlog teen waterlekkasies, met herstelsyfers wat van sowat vier-duisend in Junie tot ‘n skamele 400 in Januarie gedaal het. Daar is meer as ‘n honderd-duisend lekkasies in die stad.
En tweedens skryf die koerant die ikoniese Richly House in Gqeberha waar ‘n kroeg en ‘n klub gehuisves was, is Dinsdagoggend in ‘n brand verwoes.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die polisie het ‘n klopjag uitgevoer by ‘n skool in Pietermaritzburg.
En berig oor ‘n reusebelegging in tegnologie wat in KwaZulu-Natal gemaak gaan word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig inligting oor afgetrede staatsamptenare wat verniet in staatseiendom bly, tenderdokumente wat gereeld by die ministerie van Werke en Vervoer verdwyn en amptenare wat met tenderaars konkel om tenders te wen, is vervat in ‘n verslag van die staande komitee oor Openbare Rekeninge.
En tweedens skryf die koerant daar heers chaos by die Nakop-grenspos met Suid-Afrika. ’n Namibiese vervoermaatskappy het gistermiddag bevestig hul vragmotors het ure lank in ’n 30 km lange ry by die grenspos gewag om deurgelaat te word.