Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Prokureurs beveel aan ‘n Gautengse skoolhoof moet aanspreeklik gehou word vir die verdrinking van twee leerders
# Die SA Menseregtekommissie veroordeel rassisme by die Pretoria High School for Girls
# En, tennis: Rafael Nadal sal na die Olimpiese Spele besluit oor sy toekoms
# Seanago-prokureurs het aanbeveel die hoof van die Daveyton Skills School in Benoni, Gauteng, moet aanspreeklik gehou word vir die verdrinking van twee leerders. Sphamandla Peterson en Sibusiso Sibiya het in April verdrink tydens ‘n ongoedgekeurde dissiplinekamp in Centurion. Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het op ‘n nuuskonferensie die ondersoekverslag na die tragiese voorval gedeel. Thembekile Graham van die prokureursfima sê die skoolhoof het glo erken hy was nie bewus van die regulasies vir skooluitstappies nie:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie veroordeel beweerde rassisme by die Pretoria High School for Girls. Dit volg na die skorsing van 12 leerders wat daarvan beskuldig word dat hulle rassistiese boodskappe op WhatsApp versprei het. ‘n Dissiplinêre proses begin vanaand. ‘n Woordvoerder van die kommissie, Tshepo Madlingozi, het aan die SABC gesê skole versuim om die grondoorsake aan te pak, en vra strenger hervormings in skole:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê deursigtige handelspraktyke en die nakoming van ontwikkelingsdoelwitte is noodsaaklik vir volhoubare groei. Hy het die 21ste forum oor Groei en Geleenthede in Afrika in Washington DC in Amerika bygewoon, saam met een van sy adjunkte, Andrew Whitfield. Die ander adjunkminister, Zuko Godhimpi, was by die byeenkoms vir ministers van Handel van BRICS in Moskou. Tau sê daar is ‘n behoefte aan ‘n omgewing vir billike handel:
# Tennis: Die Spaanse veteraan, Rafael Nadal, sê hy sal na die Olimpiese Spele oor sy toekoms besluit. Dit volg na gister se vernederende nederlaag teen sy ou teenstander, Novak Djokovic van Serwië, in Parys. Die 38-jarige het hard gespook, maar dit was duidelik hy is nie meer die speler van vroeër nie. Hy neem steeds aan die dubbelspel deel saam met sy jong landgenoot, Carlos Alcaraz. Nadal erken hy het nie meer die uithouvermoë van 20 jaar gelede nie, veral weens die talle beserings die afgelope twee jaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-553-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van Fort Hare neem deel aan ‘n nuwe wêreldwye navorsingsprojek om maniere te vind om Parkinson se siekte te voorkom. Die siekte is die tweede algemeenste neuro-afbrekende siekte ter wêreld en raak sowat 6,3-miljoen mense. Christopher Cupido van die universiteit stel saam met internasionale navorsers ondersoek in na die moontlike gebruik van die sambreelblom wat ‘n bestanddeel bevat waaruit ‘n nuwe middel teen Parkinson se siekte ontwikkel kan word. Dit is die eerste navorsing ter wêreld oor dié plant.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….