Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Junie 2:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: SA Rugby het bevestig dat spelers in Europa, Brittanje en Ierland nie oorweeg sal word vir die Springbokke se eerste toets van die seisoen later die maand teen Wallis op Twickenham nie. Dit sluit in die Springbok-kaptein Siya Kolisi, wat vir die Franse klub Racing92 speel. Die span het vir die Top 14-uitspeelwedstryde gekwalifiseer, met die halfeindronde op dieselfde naweek as die toets teen Wallis. Bulle-spelers sal ook nie oorweeg word nie weens hul betrokkenheid by die uitspeelwedstryde van die Verenigde Rugbykampioenskap.
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het Alexander Zverev geklop om sy eerste Franse Ope- en derde Grand Slam-titel in te palm. Die 21-jarige het die Duitser 6-3, 2-6, 5-7, 6-1, 6-2 uitoorlê om die jongste speler ooit te word om Grand Slam-enkelspeltitels op al drie oppervlaktes te verower. Alcaraz het in Parys aangekom nadat hy weens ‘n regterarm-besering drie weke lank nie mededingend kon speel nie. Hy beskryf die Franse Ope-titel as sy trotsste Grand Slam-oorwinning tot dusver:
# Krieket: Indië het Pakistan met ses lopies geklop om hulle tweede oorwinning op die T20-Wêreldbekertoernooi te behaal. Die Pakistanse naatboulers, Haris Rauf en Naseem Shah, het albei drie paaltjies ingeoes en Indië is vir net 119 uitgeboul. Jasprit Bumrah se drie paaltjies in vier boulbeurte was daarna deurslaggewend en Pakistan het op 113 vir sewe geëindig. Indië is nou eerste in Groep A met Pakistan vierde en steeds sonder ‘n oorwinning. Bumrah sê hulle sege was ‘n spanpoging:
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het slegs die tweede speler ná Tiger Woods geword wat die Spelers-, Meesters- en Gedenkkampioenskap in dieselfde jaar kon wen. Die 27-jarige Amerikaner het op twee oor 74 klaargemaak om die PGA-toernooi se Gedenk-kampioenskap met een hou te wen vir sy vyfde titel die seisoen. Sy landgenoot Collin Morikawa was tweede en Adam Hadwin van Kanada derde.
# En, motorsport: Max Verstappen van die Red Bull-span is weer terug op die oorwinningspad na hy ‘n aksiebelaaide Kanadese Grand Prix ingepalm het. Hy het reën, verskeie veiligheidsmotor-periodes en herhaalde wegspringe oorkom om stof in die oë van Lando Norris van McLaren en George Russel van Mercedes te skop. Dit is Verstappen se sesde oorwinning in nege wedrenne dié seisoen en hy het sy kampioenskapsvoorsprong op Charles Leclerc tot 56 punte vergroot. Hy sê om so ‘n uitdagende wedren te wen is baie bevredigend:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….