Nuus 09:00
BULLETIN 8 Junie 9 vm/nm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma is oortuig Jabulani Khumalo sal van die parlementêre lys verwyder word
# Die EFF se Busisiwe Mkhwebane is ten gunste van ‘n regering van nasionale eenheid
# En, sokker: Bafana Bafana speel gelykop teen Nigerië met 1-elk
# Die leier van die MK-party en voormalige president, Jacob Zuma, is oortuig die geskorste stigter van die party, Jabulani Khumalo, sal van hulle parlementêre lys verwyder word. Hy het aan EWN bevestig hy het die sekretaris van die Parlement, Xolile George, gevra om Khumalo se naam af te haal weens onderduimse bedrywighede. Hy hou vol Khumalo sal nie ‘n parlementslid wees nie omdat hy nie ‘n lid van die party is nie:
Intussen steun die EFF-parlementslid, Busisiwe Mkhwebane, ‘n regering van nasionale eenheid om te verseker partymanifeste word uitgevoer. Sy het tydens ‘n potgooi van die EFF benadruk stemme van Suid-Afrikaners moet gehoor word, ten spyte van ongerymdhede met die verkiesing. Sy glo magsdeling in die nuwe regering moet voorkeur gee aan die belange van Suid-Afrikaners, sodat die massas uit armoede opgehef kan word:
# Die Verenigde Nasies het die Israelse weermag by ‘n lys gevoeg van oortreders wat versuim om kinders te beskerm. Die eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê die Verenigde Nasies het homself op die “swartlys van die geskiedenis” gevoeg want die Israelse weermag is die “mees morele weermag ter wêreld”. ‘n Woordvoerder van die Palestynse president, Mahmoud Abbas, het aan Reuters gesê die besluit is ‘n stappie nader om Israel aanspreeklik te hou. Duisende kinders is dood in Israel se veldtog teen Hamas in Gaza en nog duisende moet dringend humanitêre bystand kry.
# Sokker: ‘n Doel deur Themba Zwane in die 29ste minuut het Bafana Bafana gisteraand in Uyo met 1-elk laat gelykop speel teen Nigerië in hulle Wêreldbeker Groep C-wedstryd. Maar die Suid-Afrikaners kon nie nog ‘n doel aanteken nie en die Super Eagles het die gelykmaker in die tweede helfte behaal. Suid-Afrika is steeds vierde op die punteleer en Nigerië vyfde in die groep. Bafana speel Dinsdag tuis in Bloemfontein teen Zimbabwe. Slegs die groepwenners kwalifiseer outomaties vir die Fifa Wêreldbeker in 2026.
# En, ‘n groep van 32 ape het in ‘n put in Indië verdrink nadat buitengewone hoë temperature hulle desperaat na water laat soek het. Volgens plaaslike bosboubeamptes in die staat Jharkand is die ape vrek in ‘n besproeiingsput aangetref. Geen gemene spel word vermoed nie. Wilde diere gaan tydens die hittegolf dorpies binne op soek na water. Verskeie jakkalse het ‘n paar dae gelede ook gevrek nadat hulle op soek na water in ‘n put geval het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….