Nuus 11:00
BULLETIN 1 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA en EFF kry meer stemme as die ANC in die buiteland
# Verkiesing kry die groen lig van die Afrika-waarnemersendings
# En, boks: Mike Tyson en Jake Paul se geveg is uitgestel
# Die DA het 75,23-persent van die stemme ontvang wat in die buiteland uitgebring is. Suid-Afrikaners in die buiteland het die naweek van 17 tot 19 Mei gestem. Ander partye onder die topvyf is die EFF met 4,4-persent, die ANC met 3,92-persent, RISE Mzansi met 3,54-persent en die Vryheidsfront Plus met 3,03-persent. Altesaam 39-duisend-116 kruisies is getrek waarvan 32 bedorwe stemme was. Die uiteindelike totaal is 39-duisend-en-84 geldige stemme.
Die ANC loop steeds voor op nasionale vlak terwyl die Verkiesingskommissie byna al die uitslae afgehandel het. Voorlopige uitslae toon die ANC het 40,2-persent, gevolg deur die DA met 21,69-persent en die MK-party met 14,74-persent. In KwaZulu-Natal loop MK voor met 45,35-persent, gevolg deur die IVP met 18,02-persent en die ANC met 16,98. In Gauteng het die ANC 34,33-persent, gevolg deur die DA en die EFF. Die DA behou sy meerderheid in die Wes-Kaap met 55,33-persent, gevolg deur die ANC met 19,46-persent van die stemme.
In nog verkiesingsnuus het die hoofde van vier Afrika-waarnemersendings die Verkiesingskommissie, politieke partye en Suid-Afrikaanse burgers geprys vir ‘n vrye en vreedsame verkiesing. Die waarnemers, insluitend die Afrika-Unie se Verkiesingswaarnemingsending en die Verkiesingsinstituut vir Volhoubare Demokrasie in Afrika, is in verskeie dele van die land ontplooi om aspekte van die verkiesing dop te hou. Die voormalige adjunk-president van Zambië, Enoch Kavindele, sê hulle loof Suid-Afrikaners vir hulle politieke volwassenheid en die gees van verdraagsaamheid tydens die verkiesingstydperk:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal António Guterres het Israel se nuwe voorstel vir ‘n permanente skietstaking in Gaza verwelkom. Die drie-fase voorstel begin met ‘n skietstaking van ses weke waartydens die Israelse weermag uit Gaza onttrek, die vrylating van gyselaars in ruil vir honderde Palestynse gevangenes se vrylating en groter humanitêre hulp. ‘n VN-woordvoerder, Stéphanie Dujarric sê die situasie in Gaza is wanhopig:
# En laastens boksnuus: Die langverwagte geveg in Texas tussen die gewese wêreldkampioen, Mike Tyson, en die YouTuber wat bokser geword het, Jake Paul, is uitgestel. Dit volg nadat Tyson weens ‘n chroniese maagsweer nie kon oefen nie. Die 57-jarige bokser, wat in 2005 uit beroepsboks getree het met 50 oorwinnings en 6 nederlae as gewese, onbestrede swaargewigkampioen, sê hy sal binnekort weer volstoom oefen. Die 27-jarige Paul het nege van sy tien gevegte gewen. ʼn Nuwe datum sal later die maand aangekondig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….