Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 November 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig infrastruktuurhervorming in Suid-Afrika het die belangstelling gelok van Japannese ondernemings wat in die land wil belê. Die koerant skryf Japannese firmas gryp die geleentheid aan nadat die regering infrastruktuurontwikkeling vir private beleggers oopgestel het.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ‘n wolkbreuk in Parys aan die oewer van die Vaalrivier het gister tot oorstromings gelei wat groot skade veroorsaak het. Daar het volgens die inwoners 80- tot 100-millimeter reën in ongeveer ‘n uur geval.

En tweedens skryf die webblad Bangladesj het die eerste dag van die eerste toets teen Suid-Afrika op 327 vir ses sterk afgesluit.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf drie studente van die Universiteit van Fort Hare is steeds in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal nadat vyf van hul medestudente in ‘n botsing reg van voor in die Oos-Kaap dood is. Hulle is deel van ‘n groep van 13 mense wat in ‘n minibus-taxi gereis het. Die koerant berig die voertuig het op die N2 naby Mount Ayliff met ‘n vragmotor gebots. Die studente was op pad huis toe in Bizana vir die somervakansie.

# Sowetan:

Berig oor ‘n werklose rekenaarwetenskap-gegradueerde wat sy foto-afdrukonderneming op straat uitgebrei het na drie takke wat nou werk aan ses mense verskaf.

# En The Citizen:

Skryf die deelname van die DA en die Vryheidsfront Plus aan die regering van nasionale eenheid het onder ernstige druk gekom tydens die ANC se NUK-vergadering verlede week.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die dreigende likwidasie-eis teen WP-rugby oor die Nuweland-debakel. Die koerant skryf tot 92 klubs kan deur die besluit geraak word. WP sê die eis is magsmisbruik.

En tweedens skryf die koerant die polisie in Oudtshoorn het ’n saak van moord en ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die liggame van ’n 46-jarige polisiesersant en sy 40-jarige vrou in die kombuis van hul huis in Toekomsrus gevind is. Albei het skietwonde aan die kop opgedoen.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar is ‘n vertraging met die toekenning van die tender vir die nuwe diereskut van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit. Dierewelsynsorganisasies het gewaarsku die krisis neem daagliks toe.

En tweedens is daar nuus oor ‘n tatoeëerkunstenaar van Gqeberha wat ‘n liefdadigheidsinisiatief van stapel gestuur het.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf ‘n man is dood nadat hy na bewering herhaaldelik deur ‘n swerm bye gesteek is by ‘n landgoed in Sheffield. Die koerant berig die bye is moontlik versteur deur grondverskuiwingswerk in die omgewing. Die voorman is deur die bye aangeval en hoewel hy na sy voertuig gevlug het, was dit te laat.

En tweedens word berig daar heers ‘n reuse-rotteplaag in Pietermaritzburg se sakekern.

NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig ‘n groep ongelukkige lede van die staat se mediese fonds, Psemas, het ‘n beroep op die ministerie van Finansies gedoen om ‘n dringende oorsig uit te voer van mediese voordele, bybetalings en toegang tot gesondheidsdienste.

En tweedens skryf die koerant ’n plaas, 48 kilometer buite Otjiwarongo, het dringend hulp in die vorm van noodwatervoorrade nodig, nadat drie boorgate opgedroog het. Die vee op die plaas is afhanklik van ‘n gronddam waarvan die watervlak toenemend daal.