Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Oktober 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Tesourie stel ‘n Wet op Fiskale Anker voor om bestendigheid te versterk. Die wet het ten doel om vir Suid-Afrika reëls neer te lê oor hoeveel die land kan uitgee en leen.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die omstrede sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, sal vandag in die Musina-landdroshof verskyn nadat hy na bewering probeer het om ABSA-voertuie oor die grens na Zimbabwe te smokkel.

En tweedens skryf die webblad die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die mediumtermynbegroting wat gister deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana, voorgelê is, stel die mense van die land eerste.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Madlanga-, Khampepe- en Nkabinde-kommissies sal 516-miljoen-rand aan bykomende staatsbefondsing ontvang. Godongwana het die toewysings in die mini-begroting aangekondig. ‘n Bedrag van 45,5-miljard-rand is bewillig vir misdaadbestrydingsoperasies, rampverligting en maatreëls om die druk op huishoudings te verlig.

# Sowetan:

Berig ‘n styging in korporatiewe dividende, goeie BTW-verhalings en opbrengste uit die mynsektor het Godongwana in staat gestel om ‘n brandstofprysverligting in die mini-begroting aan te kondig.

# En The Citizen:

Verskaf ‘n volledige uiteensetting van Godongwana se mini-begroting en skryf dit hou deurgaans goeie nuus in vir die vuisvoos verbruiker.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor die dood van die agtjarige Nero van Niekerk van die Laerskool Totius in Boston wat deur ‘n bakkie doodgery is terwyl hy skaatsplank gery het.

En tweedens word berig ‘n 19-jarige vrouestudent van Maties is in hegtenis geneem nadat sy glo probeer het om haar eks-kêrel se bed aan die brand te steek met hom daarin.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die planne om Suid-afrika se voertuigmontering-stelle te skrap is wyd verwelkom.

En tweedens skryf die koerant oor die vals bomdreigement aan boord van ‘n FlySafair-vliegtuig by die Koning Phalo-lughawe in KuGompo-stad.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oor die regering se brandstofprysverligting.

En tweedens berig die koerant die MK-party het weer die snoeiskêr ingelê. Pumlani Kubukeli en Khanyisile Litchfield-Tshabalala is met onmiddellike ingang uit die party geskors.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig Namibiese beesboere staar toenemende finansiële druk in die gesig nadat Suid-Afrika se voerkraalbedryf die invoer van lewende beeste en beesvleisprodukte uit Namibië en Botswana gestaak het.

En tweedens skryf die koerant die Hoërhof het die president, die ministers van Justisie en Finansies, en die Prokureur-generaal tot 30 Oktober gegee om bykomende dokumente met betrekking tot behuisings- en voertuigtoelaes vir landdroste te verskaf.