Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Reserwebank het ‘n projek van stapel gestuur om digitale betalings te bevorder en verbruikers van duur kontant te laat wegstap. Dit behels die gebruik van kitsbanke en QR-kodes om betalings aan die bank te doen.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die Oos-Kaapse gemeenskap treur oor die dood van die 65-jarige Janine Lochrenberg van KuGompo-stad wat in ‘n haai-aanval dood is. Sy is in die see by Orient-strand aangeval en het aan haar wonde beswyk nadat sy strand toe gebring is.
En tweedens skryf die webblad prins Harry van Brittanje het in ‘n tydskrifonderhoud gesê hy wil met die res van die Britse koningshuis versoen.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die uitvoerende hoof van die National Media Group, Melanie Peters, het president Cyril Ramaphosa gevra om teen die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, op te tree, nadat die minister op Nasionale Persvryheidsdag in ’n TikTok-video verklaar het dat die media by geleenthede verbied word. Dit volg nadat ‘n media-ondersoek beweerde kaderontplooiing deur McKenzie se Patriotic Alliance ontbloot het.
# Sowetan:
Berig ekonome bespiegel of daar brandstofprysverligting ingebou sal wees in die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se Mediumtermyn-begrotingsraamwerk wat vandag ter tafel gelê word.
# En The Citizen:
Skryf die DA en EFF dring aan op die bedanking van die Tshwane-burgemeester, Nasiphi Moya, ná die verskaffing van onbehandelde drinkwater aan die gemeenskap van Bronkhorstspruit sonder om hul in te lig. Nagenoeg 400 mense het siek geword.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die haai-aanval in KuGompo-stad. Die koerant berig die Buffalo City-munisipaliteit het die Orient- en Eastern-strand in die stad gesluit na die voorval.
En tweedens skryf die koerant selfoongebruikers se voorafbetaalde fone wat langer as 183 dae nie gebruik word nie, sal ingevolge die nuwe regulasies van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid gedeaktiveer word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die nuwe staalwalsery wat teen sowat 360-miljoen-rand in Coega se spesiale ekonomiese zone opgerig word, kan honderde werksgeleenthede skep en die koste vir sakeondernemings in die Oos-Kaap afbring.
En tweedens skryf die koerant ook oor die haai-aaval op Orient-strand.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eise vir die verligting van die brandstofprys is besig om uit alle oorde toe te neem.
En tweedens is daar nuus oor Temba Bavuma se hondertal wat moontlik die Proteas gaan red in die toetsreeks teen Australië.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die minister van Stedelike en Landelike Ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, sê die finansiële rekords van tradisionale owerhede gaan geoudit word.
En tweedens skryf die koerant die Universiteit van Namibië eis sowat twee-miljoen-rand van Purple Plum Events and Catering CC vir beweerde onbetaalde huur van ’n kafeteria op sy hoofkampus in Windhoek.