Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die regering het meer tyd nodig om stelsels in plek te stel vir die uitvoering van die Konstitusionele Hof se uitspraak oor onwettige immigrante. Die koerant skryf intussen 30 persone wat by geweld betrek word is reeds in hegtenis geneem.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die MK-party is woedend oor berigte dat die weermag na KwaZulu-Natal ontplooi is om orde te handhaaf sou oudpresident Jacob Zuma sterf. Die party sê mense moet ophou bespiegel oor Zuma se gesondheid.
En tweedens skryf die webblad die bekende uitgewer en biograaf, Petrovna Metelerkamp, is ernstig beseer in ‘n motorongeluk op pad na die Woordfees in Stellenbosch.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het die publiek gevra om Zuma se privaatheid te respekteer en om op te hou om besonderhede oor sy gesondheidstoestand te probeer uitvind. Sy sê slegs sy mediese span kan, met sy toestemming, inligting oor sy toestand verskaf.
En tweedens word berig die polisie in die Oos-Kaap het die publiek gevra vir hulp om die 14-jarige Allegra Styles op te spoor. Sy is as vermis aangemeld nadat sy na bewering ‘n partytjie verlaat het ná ‘n rusie met haar kêrel. Die Walmer-polisie en die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe ondersoek haar verdwyning.
# Sowetan:
Berig oor die 36-jarige pastoor wat in Diepsloot in hegtenis geneem is in verband met die verkragting van en moord op ‘n vier maande oue baba. Die pastoor het glo ingestem om te help met ‘n reinigingseremonie en die kind uit haar ma se sorg geneem.
# En The Citizen:
Skryf ten spyte van ‘n lasbrief vir die inhegtenisneming van ‘n voormalige munisipale speaker van Mpumalanga, Khaya Segone, vyf jaar gelede, loop hy steeds as vry man rond. Segone is beskudig dat hy ‘n vigilantegroep lei.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die dood van die 14-jarige Fredrico Konstabel, ‘n graad nege leerder aan die Sekondêre Skool Hex-vallei in De Doorns tydens die skool se matriekafskeid. Fredrico is na bewering deur ‘n vragmotor tydens die geleentheid omgery.
En tweedens skryf die koerant ‘n bejaarde vrou van Mangaung in die Vrystaat, is omgestamp toe sy wou keer dat haar seun teen president Cyril Ramaphosa uitvaar wat besig was met stemwerwing. Die seun bekend as Rasta is deur die polisie in die huis ondervra en nie weer toegelaat om uit te kom nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n Gautengse Hooggeregshof het die verwydering van die omstrede ANC-partylid, Andile Lungisa, van die party se kandidatelys vir die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit as ongrondwetlik bestempel en die ANC gelas om hom weer in te sluit. Die ANC sê hy gaan teen die hofuitspraak appelleer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Durban het sy boorling, die regsgeleerde, menseregte-advokaat en voormalige Hoë Kommissaris vir Menseregte van die Verenigde Nasies, Navi Pillay, vereer nadat sy die Nobelprys vir Vrede gewen het.
En tweedens word berig die voortdurende vullisverwyderingskrisis in Pietermaritzburg se noordelike voorstede duur voort as gevolg van ‘n staking gelei deur die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n voorlopige ondersoek na griewe by die Windhoek Sentrale Hospitaal se hart-eenheid het maande voor die bedanking van die pediatriese kardioloog, dokter Fenny Shidhika, reeds tugoptrede teen haar aanbeveel. Sy is beskuldig van boeliegedrag en verbale mishandeling.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese eerste minister, Elijah Ngurare, het met tien Namibiese gesondheidsassistente vergader wat afgedank is ná die onttrekking van befondsing deur die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling en die Amerikaanse president se Noodplan vir Vigsverligting. Hulle het glo net 200-rand taxigeld ontvang.