Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Sanlam neem volle eienaarskap van Santam oor met die gevolg Santam staan gereed om ná 62 jaar sy aandele van die JSE te verwyder. Sanlam se aanbod is 505-rand per aandeel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die hofstryd tussen die ANC NUK-lid Nkosazana Dhlamini-Zuma en die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula. Dhlamini-Zuma het Mabalula beskuldig dat hy stemme gekoop het tydens die ANC-leiersverkiesing. Mbalula het regstappe teen sy kameraad gedoen en die saak dien nou in die Hooggeregshof in Johannesburg.
En tweedens skryf die webblad die bekroonde Britse skrywer, Jeffrey Archer, is op 86-jarige ouderdom oorlede.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Appèlhof het die staat gelas om vergoeding te betaal aan ‘n verstandelik gestremde 17-jarige wat onwettig as ‘n volwassene gearresteer en vir bykans drie maande aangehou is. Die minderjarige is eers vrygelaat nadat sy tante sy geboortesertifikaat by die polisie ingedien het. Die hof het beslis die eis om skadevergoeding kan voortgaan en die staat moet die regskoste betaal.
# Sowetan:
Lei met: “RECORD FUEL PRICE SHOCK”. Die koerant berig die brandstofprysstyging gaan die lewenskostekrisis vererger met COSATU wat waarsku dit gaan huishoudelike begrotings ‘n vernietigende slag toedien.
# En The Citizen:
Skryf ‘n leerder wat in die Wedela-taverneslagting gewond is, moes voor behandeling 27-duisend-rand by die Leratong-hospitaal betaal. Die koerant berig die rede hiervoor is dat die leerder ‘n buitelandse burger is en al is dit teen die wet het die hospitaal steeds die betaling vereis.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die bekgeveg tussen die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, en die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, wat steeds voortduur. Bozell beweer nou Lamola het hom beledig deur te sê as hy ophou gesprek voer, moet hy “die kombuis verlaat”.
En tweedens skryf die koerant ook oor die brandstofpryse. Met diesel wat tot 32-rand per liter styg, is dit die hoogste in die land se geskiedenis.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig mediese dokters wat in Kuba opgelei is, kan nêrens in die Oos-Kaap werk kry nie. Die provinsiale Departement van Gesondheid sê sy begroting is uitgeput en hy kan ook nie help nie.
En tweedens skryf die koerant ‘n entrepeneur van Gqeberha het ‘n spesiale uitvinding wat keer dat daar ontwetend dwelmmiddels by drankies in kroeë of klubs gevoeg word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ‘n Suid-Afrikaanse vlieënier het ‘n deurslaggewende rol gespeel om die Flydubai-vlug op 30 September van ‘n potensiële ramp te red. Die mede-vlieënier het die kaptein aangeval en die Suid-Afrikaanse vlieënier het daarin geslaag om die stuurkajuitdeur oop te maak, sodat die passasiers kon ingaan en die aanvaller keer.
En tweedens berig die koerant alles is gereed vir die jaarlikse Royal Agricultural Show wat van môre by die Royal Agricultural Society in Tweedie, Howick, aangebied word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namib Desert Diamonds, kortweg bekend as NAMDIA, kan glo nie die sekuriteitskontrak van die Rubicon-sekuriteitsgroep vind wat in plek was tydens die diamantrooftog op 18 Januarie 2023 toe diamante ter waarde van 300-miljoen-rand gesteel is nie.
Dan skryf die koerant die ministerie van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming het vroeg in September reeds gewaarsku dat die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika baie vinniger as verwag na Namibië sal beweeg.
En laastens word berig die Europese Unie het Namibiese beesvleisuitvoere ter waarde van ongeveer 400-miljoen-rand goedgekeur wat kort voor die uitbreking gesertifiseer is. Nuwe invoere uit Namibië se voorheen bek-en-klouseer-vrye sone is egter tydelik opgeskort.