Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Johannesburgse partyleiers van die ANC, DA, EFF, IFP en ActionSA het hewig gebots in ‘n debat oor koalisies en korrupsie in die stad. Die partye het ook verskil oor dienslewering, behuising en immigrasie.
# Mail & Guardian:
Skryf oor die modus operandi van die taxibase, Bafana Sindane en Joe “Ferrari” Sibanyoni, wat na bewering miljoene verdien het uit beskermingsgeld.
Die koerant het vandag ook ‘n spesiale bylae oor die krag van vroue.
# Die Papier:
Berig eerstens oor die reddingsplan vir City Power. Kenners meen dis moontlik te min te laat en dat die nutsmaatskappy op die rand van ‘n finansiële afgrond staan.
Dan skryf die koerant oor die styging in massaskietvoorvalle in die land. Die misdaadkenner, Julian Rademeyer, sê die meeste van die voorvalle hou verband met onderlinge mededinging tussen misdaadnetwerke.
En laastens het die koerant ‘n onderhoud gevoer met die hoof van die Hoërskool Stellenberg, Yolandé Havinga. Die skool se eerste rugbyspan het vanjaar almal verras met hul prestasies.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die sekssaak teen die geskorste adjunk-polisiekommissaris vir misdaadopsporing, Shadrack Sibiya. Daar is tydens sy borgtogaansoek in die Randburg-landdroshof getuienis gelewer oor die tien naakfoto’s van die vermeende 16-jarige slagoffer wat hy ontvang het en die telefoongesprek van 51-minute wat hy met haar gehad het. Hy het na bewering ook videos van haar versoek.
En tweedens skryf die webblad president Cyril Ramaphosa het tydens ‘n toekenningsgeleentheid vir onderwysers in Boksburg gesê die onderwyser in die klaskamer sal nooit deur kunsmatige intelligensie vervang kan word nie.
GAUTENG:
# The Star:
Berig die SAKP het sy kommer uitgespreek dat die arrestasie van sy burgemeesterskandidaat in Knysna, Thando Matika, vir die beweerde afdwinging van omkoopgeld by sakelui wat kontrakte met die stadsraad het, blote politiekery is. Matika is uit die ANC geskors nadat hy as burgemeesterskandidaat vir die SAKP aangewys is, maar het geweier om sy setel in die raad te ontruim.
# Sowetan:
Berig ook oor die klagtes van seksuele voorbereiding teen Sibiya. Daar is in Sibiya se borgtogaansoek aangevoer hy het na bewering die pa van die 16-jarige slagoffer van die seksuele voorbereiding gedreig dat hy hulle hele familie kan uitwis.
# En The Citizen:
Skryf ‘n 63-jarige ma van Boipatong suid van Johannesburg moet elke dag saam met haar 93-jarige pa en haar dogter gesigsmaskers dra om van die stank van die vryvloeiende riool in die strate te ontsnap.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die dood van die 16-jarige fietsryer, Lilitha Lombo, wat in ‘n tref-en-trap-ongeluk dood is terwyl sy besig was met ‘n oefenrit in Steynsrustweg in Somerset-Wes. Die polisie het ‘n strafbare-manslag-dossier geopen. Die koerant skryf ook oor ander voorvalle waarin fietsryers in die Wes-Kaap doodgery is.
En tweedens is daar nuus oor ‘n pasgebore babaseun van 6,37-kilogram.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die mense van Gqeberha en veral die krieketgemeenskap is baie opgewonde oor die stad in 2027 as gasheer vir vyf nasies gaan optree op St Georges-park. Die organiseerders sê dit gaan ook ‘n groot ekonomiese bydrae lewer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Het vanoggend geen digitale weergawe gepubliseer nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die uitbreking van bek-en-klouseer in die Kharasstreek het dele van die vee- en vleisbedryf tot stilstand gedwing. ‘n Slagpale is gesluit en die werknemers is met verlof gestuur om bedryfskoste te spaar.
En tweedens skryf die koerant luidens ‘n verslag wat saam gestel is na ‘n oorsigbesoek in tien streke, het skokkende voorvalle aan die lig gekom. Mediese afval word by ’n openbare terrein gestort, kontrakteurs aanvaar geen verantwoordelikheid nie en ‘n kliniek word vanuit ’n tent bedryf.