Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 September 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Madlanga-kommissie het gehoor die taxibase, Joe Sibanyoni en Oupa Sindane, was betrokke by ‘n afpersingskomplot vir beskermingsgeld. Die bewerings staan in verband met die 3,7-miljard-rand Molotoweg-projek, noord van Pretoria en sowat twee-miljoen-rand het na bewering hande verwissel. Daar is ook bewerings dat hulle bande het met veroordeelde huurmoordenaars.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig oudregter Mbuyiseli Madlanga, die voorsitter van die Madlanga-kommissie, het sy misnoë uitgespreek dat die afgedankte adjunkhoof van polisie-misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan, weer versuim het om voor die kommissie te verskyn. Madlanga het geweier om sy getuienis verder uit te stel en beslis dat dele van Khan se getuienis volgende week in camera aangehoor sal word.

En tweedens skryf die webblad die eienaar van ‘n mededingende sakeonderneming in Lwandile in die Strand is ondervra in verband met die naweek se massaskietery waarin 15 mense dood en 11 gewond is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf nog drie beskuldiges het by Charlotte Tibana en Peter “Gagash” Nonyane aangesluit in ‘n saak wat verband hou met 101 aanklagte van beweerde bedrog, diefstal en geldwassery rakende die administrasie van bestorwe boedels. Die saak spruit voort uit bewerings dat ongeveer 11-miljoen-rand onwettig geplunder is uit boedelrekeninge van oorledenes. Die beskuldigdes verskyn in die Polokwane-landdroshof.

# Sowetan:

Berig soos Business Day oor die bewerings voor die Madlanga-kommissie oor Joe Sibanyoni en Oupa Sindane. Die koerant skryf die inligting oor beskermingsgeld het uit WhatsApp-boodskappe van Sindane aan die lig gekom.

# En The Citizen:

Skryf inwoners van Roodepoort gaan daagliks gebuk onder onaanvaarbare vlakke van lood, sink en arseen aangesien die kontrakteur wat op naburige mynhope werk weier om die voorgeskrewe rehabilitasiestappe te doen. Hy sê hy is in elk geval onwettig daar.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig daar is talle vrae oor die toekoms van die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu. Hy sit steeds by die huis en verdien meer as drie-miljoen-rand. Daar is toenemende druk op president Cyril Ramaphosa om ‘n besluit oor die aangeleentheid te neem.

En tweedens skryf die koerant gemeenskapslede van Oudtshoorn het gister gehelp soek na die volstruisboer, Saag Jonker, wie se bakkie Sondag deur vloedwater meegesleur is. Gemeenskapslede het ‘n sonartoestel beskikbaar gestel waar die Olifantsrivier te diep is vir duikers.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die Nelson Mandelabaai-metropolisie het rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die inwoners van die plakkerskamp in Airport Valley uit die gebied te verdryf. Die area gaan skoongemaak word vir ‘n behuisingsprojek. Die koerant skryf emosies het hoog geloop toe stootskrapers inbeweeg het om die woonstrukture plat te stoot.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar is ‘n brandweervoertuigkrisis in Pietermaritzburg wat ’n regstreekse uitwerking het op die blus van groot brande in die Jika Joe-informele nedersetting. Nooddienste sukkel met beperkte brandbestrydingshulpbronne, verouderde toerusting en ‘n hoë werkslas.

En tweedens word berig oor die 40-jarige herdenking van Irene’s Models ​​in Pietermaritzburg. Die stigter, Irene Olivier, het ‘n reusebydrae gelewer tot die loopbane van aspirant-modelle en jongmense.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig eerstens oor die benarde situasie van die veeboere buite Karasburg. Diegene wat op hervestigingsplase boer sê die dood het aan hul deure kom klop.

En tweedens skryf die koerant die regering het sy April-teiken om drie-duisend huise te bou, soos uiteengesit in die SWAPO-manifes, gemis en is nou onder druk om teen Desember tien-duisend huise gereed te hê.