Nuus 14:00
BULLETIN 28 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nasionale ondersoek na geslagsgeweld begin in Johannesburg
# Makashule Gana dien ’n beëdigde verklaring in oor die Madonsela-regsaak
# En krieket: David Miller hou daarvan om van die nommer vyf-kolfposisie ’n bydrae te lewer
# Die nasionale gesamentlike ondersoek na geslagsgeweld en vrouemoord het in Braamfontein, Johannesburg begin. Dit word gesamentlik gedoen deur die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die Kommisie vir die Beskerming van Kultuur-, Taal- en Godsdiensregte. Die vyfdaagse ondersoek plaas die kollig op hoe Suid-Afrika se strafregstelsel op geslagsgeweld reageer, insluitend aanmelding, slagoffer-ondersteuning, ondersoeke en voorverhoor-prosesse. Dit sal oorlewendes se ervarings aanhoor en wetstoepassing-, forensiese en aanspreeklikheids-uitdagings ondersoek. Aanbevelings is gemik op die versterking van oorlewendes se beskerming en aanspreeklikheid.
# Die voorsitter van die Parlementêre ampsklagkomitee, Makashule Gana, het ‘n beëdigde verklaring by die Hooggeregshof in Kaapstad ingedien oor die herroeping van advokaat Thandazani Madonsela se aanbeveling as getuienisleier. Die EFF en die African Legal Professionals Association het die regsgeding aanhangig gemaak omdat die Parlement die aanbeveling teruggetrek het weens kommer oor Madonsela se vorige werk vir die ANC. Gana vra die spoedige finalisering van die kwessie:
# Die GOOD-party in Kaapstad vra ware en blywende oplossings vir geweld en sê elke gemeenskap het die reg op ‘n veilige en vreedsame woonbuurt. Sestien mense is die naweek in die stad doodgeskiet – tien in ‘n vermaaklikheidsplek in Lwandle. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die huidige benadering om geweld te bekamp werk nie. Hy sê die Wes-Kaap se eie Veiligheidsplan erken dat geweld voortspruit uit armoede, werkloosheid, oorbevolking en verwaarlosing:
Nuus uit die buiteland:
# Pous Leo het mediese bystand met selfdood as vals deernis veroordeel tydens ‘n besoek aan Lourdes in Frankryk. Hy het tydens ‘n mis aan sowat 150-duisend mense gesê mense wat met ernstige siekte en pyn leef, het ‘n inherente waardigheid wat respekteer moet word. Leo sê wette moet nie daardie waardigheid verwyder nie, en sê wettig is nie noodwendig moreel nie. Frankryk het onlangs wetgewing goedgekeur wat volwassenes met ongeneeslike siektes toelaat om dodelike medikasie te ontvang. Leo het ook sewe slagoffers van geestelikes se seksuele misbruik ontmoet.
# Krieket: Die ervare Protea-kolwer David Miller verkies die nommer vyf-kolfposisie, maar sal speel waar hy benodig word. Hy het net nege lopies aangeteken in die eerste eendagwedstryd teen Australië in Durban, maar gister in die tweede kragmeting op die Wanderers ‘n blitsige 142 van slegs 93 balle aangeteken en Suid-Afrika gehelp om sy sesde agtereenvolgende reeks-oorwinning oor Australië te beklink. Dit was die 37-jarige Miller se beste eendag-telling ooit. Hy sê hy moes bloot op homself vertrou nadat hy ‘n tyd lank nie in dié formaat gespeel het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-796-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-156-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….