Nuus 13:00
BULLETIN 28 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa waarsku teen diegene wat daarop uit is om nasionale eenheid te ondermyn
# ‘n Polisiesersant in Limpopo vermoor blykbaar ’n man en verkrag ’n 14-jarige voor hy sy eie lewe neem
# En Taylor Swift is nou die kunstenaar met die meeste toekennnings ooit op MTV
# President Cyril Ramaphosa vra Suid-Afrikaners om waaksaam te bly teenoor diegene wat nasionale eenheid wil ondermyn en burgers teen mekaar wil ophits. Hy skryf in sy weeklikse nuusbrief terwyl werkloosheid hoog is en ’n behoefte bestaan om beleggings te lok, is dit onverantwoordelik en onpatrioties om na die buiteland te reis om die valsheid van wit volksmoord in jou eie land te versprei. AfriForum en Solidariteit is daarvan beskuldig dat hulle die verhaal van wit volksmoord in die buiteland bevorder. Ramaphosa sê vryheid van spraak gaan gepaard met verantwoordelikheid.
# Die polisie in Limpopo het sake van moord en verkragting geopen teen ‘n polisiesersant van die Mecklenburg-polisiekantoor, en ook ‘n geregtelike doodsondersoek. Die man het na bewering gister ʼn 32-jarige man in die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit doodgeskiet. Woordvoerder Malesela Ledwaba sê hy het daarna met ʼn 14-jarige meisie wat by hom was na sy woonplek in Ga-Masha gery, waar hy haar na bewering verkrag het:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta verwelkom die 2026 Grondslagfase-katalogus, veral die fokus op lees en begrip. Dit verskaf bygewerkte materiaal in ooreenstemming met die leerplan, sterker hulpmiddels vir basiese geletterdheid, en voorsiening vir nuwe vakke soos kodering en robotika. Die instelling van die katalogus sal sowat 1,6-miljard-rand kos. Makaneta sê dit verskaf 40 leesboeke per klas en ʼn kernleesboek vir elke leerder. Hy sê dis die regte stap om geletterdheid te verbeter:
# Gholf: Amerika het op die laaste dag op die Medinah-buiteklub in Illinois dramaties teruggeveg om die Presidentsbeker die elfde agtereenvolgende keer te wen. Brandt Snedeker se span het agt punte gekort van die laaste 12 wedstryde teen die internasionale span om ‘n eerste nederlaag sedert 1998 af te weer. Hulle het nege van die 12 enkelspelwedstryde gewen om die oorwinning met 17-13 te beklink. Snedeker sê die spelers het alles uitgehaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-889-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-147-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-83-sent per vat.
# En laastens, die pop-sensasie Taylor Swift het geskiedenis gemaak deur die kunstenaar te word met die meeste toekennings in die MTV-video-musiektoekennings. Die 36-jarige Amerikaner, wat voorheen saam met Beyoncé voor was met 30 toekennings elk, het gisteraand drie toekennings ingepalm in Los Angeles. Swift het die eerste Artist Director Honours ingepalm, asook Video van die Jaar en Beste Regie vir The Fate of Ophelia. Madonna is Kunstenaar van die Jaar en Liedjie van die Jaar het gegaan aan BTS vir Swim. Bruno Mars het Beste R&B gewen vir I Just Might.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….