Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 September 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het sy plan vir ‘n nasionale selfoon-groothandelnetwerkoperateur teruggetrek. In plaas daarvan sal mobiele operateurs ‘n breër radiofrekwensiespektrum tot hul beskikking hê.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens ‘n  gevierde volstruisboer, die 85-jarige Saag Jonker van Oudtshoorn, word vermis nadat vloedwater sy voertuig sowat drie-kilometer buite die dorp meegesleur het. Die Olifantsrivier is tans in vloed en Jonker het na bewering probeer om die rivier via ‘n laagwaterbrug oor te steek.

En tweedens berig die webblad oor die massa-skietery by ‘n taverne in Wedela naby Carletonville waartydens 17 mense Saterdagaand doodgeskiet is. Vogens berigte het die polisie reeds foto’s en besonderhede van die mans wat die moorde gepleeg het.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf eerstens soos talle ander koerante ook oor die 27 mense wat die naweek in afsonderlike skietvoorvalle by ‘n taverne en braairestaurant in Gauteng en die Wes-Kaap omgekom het. Die koerant berig geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

En tweedens word berig die omstrede EFF-LP, Carl Niehaus, het ‘n reeks vrae aan ministers by die Parlement ingedien. Die vrae is uiteenlopend, van wit volksmoorde, immigrasie, werkloosheid tot die verkiesing in November. Niehaus verlang skriftelike antwoorde.

# Sowetan:

Lei met: “BLOODY WEEKEND”. Die koerant berig die skietvoorvalle laat gemeenskappe vra of daar genoeg gedoen word om sulke slagtings te keer. Daar is die afgelope naweek meer as 30 mense landswyd in skietvoorvalle dood.

# En The Citizen:

Stel die naweek se massaskietery nog erger voor en lei met “RIVERS OF BLOOD”. Die koerant skryf die liggame hoop op en die enigste plek waar mens na die oorsaak kan gaan soek, is by swak polisie-intelligensie en onbeheerde vuurwapensmokkelary.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens ook oor die verdwyning van Saag Jonker.

Dan skryf die koerant die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het die Graaff-Reinet-forum laat weet hy steur hom nie aan hulle spertyd nie en hy sal hom nie laat aanjaag oor die besluit oor ‘n naamsverandering vir die dorp nie.

En laastens is daar nuus oor ‘n “robot-toestel” wat ‘n vrou gehelp het om van Tafelberg af te stap.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig gemoedere het opgevlam in die plaaslike swemgemeenskap en ‘n omgewingsaktivis gaan ‘n aanrandingsaak indien nadat hy in ‘n strand-bakleiery beseer is.

En tweedens skryf die koerant ‘n renoster en haar kalf is dood in ‘n stropingsvoorval in ‘n Kariega-reservaat.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf elf mense het omgekom en nog agt is ernstig beseer toe ‘n minibus-taxi gister in die vroeë oggendure op die N2 naby St Lucia in KwaZulu-Natal reg van voor met ‘n vragmotor gebots het. Die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer sê die taxi het aan die brand geslaan.

En tweedens word berig die liggaam van ‘n elfde vrou is in Ekurhuleni aan die Oos-Rand ontdek.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die ministerie van Landbou, Visserye, Water en Grondhervorming het deur sy Direktoraat van Veeartsenykundige Dienste die gedeeltelike opheffing van die aanvanklike beperkings op die beweging van gespletehoefdiere en hul produkte met onmiddellike ingang in gebiede noord van die veterinêre kordonheining, of sogenaamde Rooilyn, opgehef.

En tweedens skryf die koerant oor die afsterwe van Namibië se oudhoofregter, Johan Strydom.