Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 23 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig onbillike ontslag maak meer as die helfte van die sake uit wat voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie dien. Sektore soos veiligheid, sekuriteit en kleinhandel word die swaarste getref namate ekonomiese druk tot meer personeelverminderings lei.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die polisie het beslag gelê op ‘n selfoon en elektroniese toerusting by die huis van die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, in KwaZulu-Natal nadat ‘n lasbrief vir deursoeking en beslaglegging deur die Hooggeregshof in Johannesburg uitgereik is. Die foon is volgens die polisie gekoppel aan ‘n saak van dwarsboming van die gereg.
En tweedens skryf die webblad die DA het ‘n dringende aansoek by die Verkiesingshof ingedien waarvolgens die EFF, ActionSA, die MK-party en die GOOD-party beskuldig word dat hulle doelbewus kandidate vir kiesers wegsteek. Die party sê dit geld indien partye meer setels wen as wat daar kandidate op hul proporsionele verteenwoordigingslyste is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die polisie se beslaglegging by Mchunu se huis. Volgens die koerant het die geskorste minister die oorhanding sonder enige teenstand in die teenwoordigheid van sy prokureur gedoen.
# Sowetan:
Lei met: “INSIDE SIBIYA’S RAPE CASE” en berig oor die besonderhede van die saak teen die geskorste adjunkkommisaris van polisie, Shadrack Sibiya. Die koerant skryf die klagtes hou verband met die aanvra van onwelvoeglike foto’s, seksuele voorbereiding, verkragting en mensehandel met tieners.
# En The Citizen:
Lei met ‘n berig wat gister die hoofopskrifte gehaal het, naamlik oudpresident Thabo Mbeki se moontlike rol om die dooiepunt tussen die VSA en Suid-Afrika op te los.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Graaff-Reinet-forum het die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie tot die einde van September gegee om te besin oor die naamsverandering na Robert Sobukwe-stad. Die forum sê hulle sal die saak in die hof verder voer.
En tweedens is daar nuus oor ‘n vrou wat haar lam geskrik het toe sy ‘n slang op haar wasgoeddraad teëgekom het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, sê voortdurende kragonderbrekings word veroorsaak deur maatskappye wat meer krag gebruik as waarvoor hulle aansoek gedoen het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf twee leerders is dood en drie ander ernstig beseer nadat gewapende mans in KwaMashu, Durban, op hulle losgebrand het. Die jongste voorval volg minder as ‘n week nadat drie graad 12-leerders buite die Bukimvelo-hoërskool in Hluhluwe geskiet is.
En tweedens word berig die Msunduzi-munisipaliteit ondersoek bewerings teen burgemeester Mzimkhulu Thebolla dat hy met ‘n elektrisiteitsmeter by ‘n huis wat hy gehuur het, gepeuter het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig hoewel die Maatskaplike Voorsorgfonds se verhoging in kraamvoordele in opdrag van president Netumbo Nandi-Ndaitwah verwelkom word, moet die aanpassing gepaardgaan met groter ondersteuning vir gesinne. Langer kraamverlof en finansiële steun vir vaders word uitgelig.
En tweedens skryf die koerant die regering sê die beweging van mense oor die grens tussen Namibië en Angola is ’n saak van wedersydse belang wat noue samewerking tussen die twee lande vereis. Daar bestaan egter kommer oor die lot van ontwortelde Angolese kinders.
Môre is Erfenisdag en daar sal geen uitgawe van die Koerantverslag wees nie.