Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 September 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Staatsdienskommissie gaan die Tesourie vir nog 435-miljoen-rand vra nadat sy mandaat uitgebrei is. Volgens onlangse wysigings aan die Wet op die Staatsdienskommissie word munisipaliteite nou onder die kommissie se toesig geplaas.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Zimbabwiese sakeman, Lawrence Mudzingayama, wat gedreig het om drie vrouens in ‘n Sandtonse restaurant dood te skiet omdat hulle sy toenadering geweier het, is gister deur die polisie in hegtenis geneem, maar op eie verantwoordelikheid vrygelaat.

En tweedens skryf die webblad die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, Christo van der Rheede, het oornag bedank nadat hy homself uitgespreek het teen die VSA se sanksies oor regstellende aksie en grondhervorming.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het luitenant-generaal Dumisani Khumalo van die polisie se Intelligensiediens en die KwaZulu-Natalse kommissaris, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, versoek om met die moordondersoeke in Ekurhuleni te help. Hulle sal die hoof van die ondersoekspan, luitenant-generaal Hilda Senthumule en haar span bystaan.

# Sowetan:

Berig ook oor die betrokkenheid van Khumalo en Mkhwanazi. En skryf ook oor die Zimbabwiese man wat vrouens in Sandton wou skiet.

# En The Citizen:

Skryf die Voëlpan naby Allanridge in die Vrystaat is besmet met arseen, lood en uraan en die inwoners van Nyakallong word elke dag aan die gesondheidsgevaar blootgestel. Selfs hofuitsprake het geen uitwerking nie en die plaaslike regering maak slegs beloftes.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die polisie het drie persone van belang in hegtenis geneem vir ondervraging in verband met die Ekurhuleni-moorde. Cachalia sê daar is nog nie genoeg stawende getuienis om aan te neem die moorde is die werk van ‘n reeksmoordenaar nie.

En tweedens skryf die koerant die veteraanmotorrenjaer, die 62-jarige, Marcel Angel, is Saterdag tydens die National Extreme Festival by die Killarney-renbaan dood. Hy was in ‘n ongeluk betrokke tydens die Extreme Supercars-kategorie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar word ‘n harde stryd verwag met die plaaslikeregeringsverkiesing in Nelson Mandelabaai. Altesaam 38 politieke partye en nege onafhanklike kandidate gaan aan die verkiesing deelneem.

En tweedens skryf die koerant twee verkragtingslagoffers, Alison Botha en Andy Kawa, het hulself sterk uitgespreek teen die Ekurhuleni-moorde en die vlaag van geslagsgeweld in Suid-Afrika.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf daar heers groot kommer oor die uitbreking en verspreiding van a-pokke in Suid-Afrika. Teen die einde van verlede week was daar 18 bevestigde en een waarskynlike geval. Die meeste kom voor in die Wes-Kaap.

En tweedens word berig oor die begrafnis van die godsdiensleier, maatskaplike aktivis, filantroop, voormalige raadslid en sakeman Victor Pillay. Hy is beskryf as ‘n visioenêr wat ‘n groot deel van sy lewe daaraan gewy het om sy gemeenskap te dien.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die minister van Justisie en Arbeidsverhoudinge, Wise Immanuel, sê die Namibiese regstelsel word aan bande gelê deur vertragings, burokrasie, ondoeltreffendheid, vermoëbeperkings, finansieringstekorte en ‘n ‘silo’-mentaliteit. Hy sê die stelsel moet dringend hervorm word.

En tweedens skryf die koerant drie dae voor die herdenking van Wêreldrenosterdag en 13 dae na sy 53ste verjaardag, is die bekende renosterbewaarder, Jaco Muller, in ’n girokopterongeluk dood op die plaas Chorab in die Outjo-distrik.