Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ‘n Keniaanse hof het Vodacom se oorname van Safaricom ter waarde van 36-miljard-rand verbied. Die koerant skryf in die uitspraak word daar verwys na ‘n arbitrêre prysbepaling en kommer oor mededinging, veral rakende die verkoop van die staat se aandeel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het gisteraand aangekondig dat die polisie ‘n agtste vroueliggaam in die Ekurhuleni-gebied ontdek het. Cachalia sê die jongste voorval sal by die polisieondersoek na die sewe ander moorde ingesluit word. Die webblad skryf die polisie kyk na die moontlikheid van ‘n reeksmoordenaar.
En tweedens skryf die blad die DA is van mening dat die billikheid van vanjaar se verkiesing in gedrang gebring sal word indien die ANC toegelaat word om die kandidate te registreer wat nie voor die spertyd gedoen is nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor Cachalia se bevestiging dat die aantal liggame van vroue wat in Gauteng gevind is, tot agt gestyg het. Hy het die aankondiging tydens ‘n inligtingsessie oor die ondersoek na die vrouemoorde in Ekurhuleni gedoen. Die koerant skryf die agtste liggaam is in Olifantsfontein gevind.
# Sowetan:
Het slegs een woord op sy voorblad vandag: “ENOUGH!”. Die koerant vra wanneer gaan die gemeenskap opstaan teen vrouemoord.
# En The Citizen:
Skryf die organisasie Disabled People South Africa dring daarop aan dat die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodima, afgedank moet word. Dit volg nadat sy ‘n gestremde man op krukke gevloek het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Pemmy Majodima, se verskoning is nie genoeg nie. Die DA en ActionSA gaan voort met hul klag by die etiekkomitee terwyl die ANC moontlik ook tugstappe sal doen.
En tweedens skryf die koerant ‘n 21-jarige man van De Doorns is dood en sy tweelingsuster is in die hospitaal nadat hulle met hul voertuig in die Goukourivier by Stilbaai geland het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die polisie en Onderwysdepartement stel ondersoek in na beweerde geslagsmisdade tussen die kinders van die Herbert Hurd Primary School in Nelson Mandelabaai.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens die moorde op die agt vroue in Ekurhuleni het die hele land geruk.
En tweedens word berig die man wat Lefteri Galanis van Marcos Jewellers tydens ‘n rooftog doodgeskiet het, het skuldig gepleit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibië Lughawensmaatskappy het alle buitelandse reise deur sy werknemers met onmiddellike ingang opgeskort ná ’n opdrag van sy nuwe raad.
En tweedens skryf die koerant die regering het tot dusver twee-miljard-rand aan gesubsidieerde tersiêre onderwys bestee deur middel van die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente.