Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Verkiesingshof het die United Democratic Front se aansoek verwerp om die sperdatum vir kandidaatregistrasie vir die plaaslikeregeringsverkiesing te verleng. Die hof het beslis die Verkiesingskommissie het nie die mag om individuele partye vry te stel nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief erken openbare vertroue in die SAPD is so laag dat landsburgers nie die moeite doen om misdaad aan te meld nie.
En tweedens skryf die blad die 84-jarige country-sanger, Tommy Dell, wat Saterdag ernstig beseer is in ‘n motorongeluk naby Mbombela, is steeds in die waakeenheid, maar sy toestand het verbeter.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die eerste adjunkpresident van die vakverbond COSATU, Mike Shingange, het Westerse lande gekritiseer vir wat hy noem hulle roofagtige optrede op die vasteland. Hy sê die huidige migrasiepatrone is ‘n regstreekse gevolg van die onbeperkte ontginning van natuurlike hulpbronne deur Europese en Amerikaanse maatskappye wat die meeste Afrikalande armer laat.
# Sowetan:
Lei met: “SCHOOL THAT EXISTS ONLY ON PAPER”. Die koerant berig oor die Soshanguve Secondary School wat nou reeds vir drie jaar op die terrein van ‘n ander skool in tydelike klaskamers gehuisves word. Die leerders van die gasheerskool, die Umkhumbane Secondary School kom nou in opstand omdat die terrein nie die groot aantal leerders kan hanteer nie.
# En The Citizen:
Skryf Eskom se elektrisiteitsprys gaan volgende jaar met 8,83-persent styg. Dit is drie maal die heersende inflasiekoers en plaas bekostigbaarheid buite die bereik van die verbruiker.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n 30-jarige Suid-Afrikaanse werktuigkundige van Limpopo is volgens berigte deel van ‘n groep burgerlikes wat gyselaar geneem is nadat ‘n gewapende groep ‘n jag-lodge naby die Niassa Spesiale Reservaat in Mosambiek aangeval het. Die groep word glo verbind met ‘n Islamitiese Staat-geaffilieerde opstand wat sedert 2017 in die streek bedrywig is. Die koerant skryf twee verlate bakkies is in die soektog na die groep gevind.
En tweedens word berig minstens 12 skole in Beaufort-Wes is gesluit nadat die Gamkarivier sy walle oorstroom het en die hoofwaterpypleiding weggespoel is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die inwoners van Zwide het die polisie beskuldig van hardhandige optrede en diefstal tydens ‘n klopjag wat in die township in Nelson Mandelabaai uitgevoer is.
En tweedens skryf die koerant die sogenaamde dissiplinêre boot camp in Gqeberha is steeds in die nuus met nuwe verhale van mishandeling en ander skokkende gebeure.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die AmaZulu-koning Misuzulu kaZwelithini het die regering skerp gekritiseer omdat hy na bewering uitgesluit is van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-beraad. Die koning het glo gedreig om die Zoeloe-regiment te stuur om die vergadering te stop.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese ministerie van Gesondheid sê 54-persent van die sterftes onder moeders kon met beter kliniese sorg verhoed word. Daar was ‘n skerp afname in sterftes oor twee dekades, maar dit voldoen steeds nie aan wêreldwye teikens nie.
En tweedens skryf die koerant weer oor die haglike omstandighede by die Otjiwarongo-staatshospitaal wat veroorsaak word deur ‘n reuse-personeeltekort.