Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 September 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Verkiesingskommissie het ‘n spertyd van 36 uur gestel vir politieke partye om vals nuus aan te meld. Die koerant skryf die nuwe verkiesingskode vereis toesig oor veldtoginhoud en vinnige reaksie op waninligting.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig polisielede van Nelson Mandelabaai wat hul eie voertuig gebruik het om misdadigers vas te trek, is moontlik nou in die moeilikheid. Die probleem is egter dat min van die plaaslike Blitspatrolie se voertuie in ‘n werkende toestand is en die tendens gebeur glo gereeld.
En tweedens skryf die webblad motors is gister tot dakhoogte in vloedwater vasgekeer ná oorstromings in Doornfontein, Johannesburg.
GAUTENG:
# The Star:
Berig president Cyril Ramaphosa het by die SAPD se gedenkgeleentheid in Pretoria gewaarsku dat misdadigers wat polisiebeamptes teiken, die integriteit van die staat, die oppergesag van die reg en die grondwetlike orde aanval. Suid-Afrika het gister 12 SAPD-lede wat die afgelope jaar in die uitvoering van hul pligte dood is, vereer.
# En Sowetan:
Berig die naweek se stormweer in Gauteng gaan volgens die Weerdiens vandag voortduur. Dakke is afgewaai en paaie oorstroom na die naweek se gure weer. Verdere donderstorms, swaar reën en sterk wind is voorspel en die nooddienste van die provinsie se metro’s is op gereedheidsgrondslag.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die ANC se dilemma nadat hy die sperdatum vir die registrasie van sommige Oos-Kaapse kandidate vir die plaaslikeregeringsverkiesing in November misgeloop het. Die koerant skryf die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, staan midde in die interne stryd in die ANC en daar word ‘n slagting by Oos-Kaapse stembusse verwag.
En tweedens skryf die koerant daar was nog twee aanvalle op plase in die Kaapse Wynland.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die inwoners van Gqeberha het by die Nelson Mandelbaai-metro aangedring dat straatligte herstel moet word aangesien misdaad ‘n ernstige probleem in donker gebiede is.
En tweedens skryf die koerant oor The Herald se Citizens of the Year-toekennings.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Musgrave-paartjie van Durban wat in 2022 dood is nadat die woonstel langs hulle s’n met plaagdoder bespuit is, is weer in die nuus. Die firma wat na bewering onwettige gifstowwe gebruik het, gaan nou oplaas in die hof verskyn.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig leiers in die visbedryf het gewaarsku Namibië loop die risiko om sy mariene hulpbronne te vernietig, sou politieke, nywerheids- en werksdruk bo wetenskaplike raad oor visvangkwotas gestel word.
En tweedens skryf die koerant Stad Windhoek se uitvoerende hoof, Moses Matyayi, eis ‘n openbare verskoning of alternatiewelik skadevergoeding van 500-duisend-rand elk van drie stadsraadslede oor wat hy beskryf as valse en lasterlike bewerings.