Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Augustus 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig hoëronderwysinstellings skiet tekort op die gebied van diensbillikheid en die Departement van Hoër Onderwys het universiteite gewaarsku om transformasie te verbeter of strenger afdwinging in die gesig te staar.
# Mail & Guardian:
Skryf die suikersektor ly onder invoere en die bedryf vra nou beskerming aangesien ‘n massa goedkoop produkte werksgeleenthede en die plaaslike bedryf bedreig.
# Die Papier:
Lei met Handré Pollard wat in môre se Bokspan ingesluit is. Die koerant skryf die 32-jarige losskakel is ingesluit om die kragmeting teen die All Blacks te wen.
Dan word berig oor AfriForum en March and March se bondgenootskap. Die koerant berig dit gaan na bewering hoofsaaklik oor ‘n privaat vervolgingseenheid wat March and March op die been wil bring.
En laastens het die koerant ‘n indiepte-onderhoud gevoer met Grandi Theunissen oor sy besluit om oor te loop van die VF+ na die DA.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig daar is ’n vyfde lasbrief uitgereik vir die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkwanazi. Die jongste voorval hou verband met die bloulig-saga.
En tweedens skryf die webblad die ANC is vol vertroue dat hy sy kandidatelyste betyds teen Vrydag sal inhandig.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrika se florerende wildtoerismebedryf word toenemend bedreig deur bosvleis-stropery. Professor Peet van der Merwe van die Toerisme-navorsingseenheid aan die Noordwes-Universiteit sê onwettige bosvleisjag stroop parke en reservate wat jaarliks miljoene besoekers lok.
# Sowetan:
Berig daar heers ’n bitter hofstryd oor die boedel van die oorlede sanger Steve Kekana. Sy eksvrou en vyf volwasse kinders baklei oor sy bates.
# En The Citizen:
Skryf tenderbedrog het geen keer nie en hou net aan. Elke dag word ‘n nuwe bedrogspul oopgekrap.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die ses Suid-Afrikaners wat vermis word in Nepal en Gift of the Givers wat gereed is om hulp te verleen. Die koerant maak ook die naam van een van die vermistes bekend. Sy is die 33-jarige Terricia Govender van Isipingo in KwaZulu-Natal.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n 11-jarige wat beseer is toe ‘n skrum op hom geval het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig hoewel die multimiljard-rand KI-ontwikkelingsentrum in Koega duisende werksgeleenthede gaan skep, gaan dit ‘n baie groot hoeveelheid krag nodig hê om bedryf te word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig oor die vermiste mense in Nepal en skryf dat die meeste van hulle van KwaZulu-Natal afkomstig is.
En tweedens skryf die koerant oor die gevaar wat die landswye masel-uitbreking vir kinders inhou.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n ambisieuse plan deur die regering en ’n Londense maatskappy om ’n reuse-projek in Windhoek te ontwikkel, het na bewering ’n struikelblok getref nadat kommer oor die belegger se rekord geopper is.
En tweedens skryf die koerant ‘n groep geloofsvroue in Rehoboth staan agter die stuur van die Women in Faith-boeremark wat môre plaasvind en ‘n broodnodige platform vir entrepreneurs skep.