Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Augustus 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, wil die uitspraak in die Hooggeregshof in Pretoria wat die bou van nuwe steenkoolkragstasies keer, uitdaag. Die rede vir die beslissing in 2024 was dat die regering nie voldoende omgewingstudies gedoen het nie.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig ActionSA het drie ervare raadslede as burgemeesterskandidate in KwaZulu-Natal benoem. Die benoemings is in eThekwini, KwaDukuza en Newcastle. Die leier van die March and March-beweging, Jacinta Ngobese-Zuma, het haar steun ook nou aan ActionSA toegesê.

En tweedens skryf die webblad die sanger Danny K se vrou Lisa Koppel is oorlede. Die oorsaak van haar dood is onbekend.

GAUTENG:

# The Star:

Berig die burgemeesterskandidaat van die Patriotic Alliance in Kaapstad, Cheslyn Daniels, is na ‘n beweerde huishoudelike geskil in Belhar gearresteer. Hy is saam met sy huidige vrou, Devenay Rayners, in hegtenis geneem. Die polisie sê dit hou verband met die beweerde oortreding van ‘n hofbevel.

# Sowetan:

Berig twee van die slagoffers van die Reigerpark-skietery die afgelope naweek, Jaydin Magerman en Rolene Lessing, was by ‘n kafee om hout te koop toe hulle doodgeskiet is. Die koerant skryf die polisie ondervra ‘n persoon van belang en die vuurwapens van die ander twee slagoffers van die skietery, twee lede van die polisie se Teen-bende-eenheid, is teruggevind.

# En The Citizen:

Skryf ‘n ondersoek deur die koerant het die minister van Vervoer, Barbara Creecy, genoop om ‘n tender van ‘n gelikwideerde maatskappy aan Burgerlugvaart te laat ondersoek.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die uitdaging aan George de Rock van Grassypark om op sy 47ste verjaarsdag 47-kilometer te hardloop het tragies geëindig toe hy op Constantianek geval en aan sy beserings beswyk het.

En tweedens skryf die koerant ‘n matriekleerder van die Hoërskool Punt in Mosselbaai is na ‘n rugbywedstryd teen Hoërskool Bredasdorp deur ‘n tiener met ‘n mes gesteek. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord, maar die verdagte is nie ‘n leerder van Bredasdorp nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig oor die ontwrigtende sneeu in die Oos-Kaap. Die N6 Penhoekpas tussen Komani en Maletswayi en die N9 Lootsbergpas tussen Middelburg en Robert Sobukwe-dorp is steeds gesluit vir verkeer. Voorts skryf die koerant die R-415 van Matatiele na die Quagasnek-grenspos met Lesotho is ook gesluit.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf eerstens ook oor die gure weer in KwaZulu-Natal met sneeuneerslae wat veral verkeer op die N3 ontwrig het.

En tweedens skryf die koerant Durban maak gereed vir die aankoms van die All Blacks.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig maande nadat ’n vyf maande oue babameisie se drup vir binneaarse voeding in ’n distrikshospitaal tot edema in haar voetjie gelei het, gaan dit moontlik geamputeer moet word omdat dit nooit behandel is nie.

En tweedens skryf die koerant sedert Frieda Muyanga se 36-jarige seun Siegfried op 8 April uit Ovitoto in die Otjozondjupa-streek verdwyn het, kry sy nie rus nie. Sy sê hy was haar steunpilaar en regterhand.