Nuus 09:00
BULLETIN 8 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula verdedig die ANC se migrasiebeleid
# Warrick “DJ Warras” Stock se moordenaar kry 25 jaar tronkstraf
# En sokker, belangrike MTN8-kwarteindronde-ontmoetings vind die naweek plaas
# Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party het niemand aangeval wat kommer oor migrasie geopper het nie. Mbalula het in Johannesburg by die party finalisering van sy verkiesingsmanifes gesê die ANC se benadering is om wetgewing af te dwing, en menslik teenoor die res van Afrika op te tree. Mbalula sê opregte griewe moet opgelos word eerder as om dit as ‘n politieke slagspreuk te gebruik. Hy het gevra vir groter kontinentale betrokkenheid:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die Mosambiekse burger Armindo Pacula tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die huurmoord in Desember verlede jaar in die Johannesburgse middestad op die mediapersoonlikheid Warrick “DJ Warras” Stock. Pacula het skuldig gepleit ingevolge ‘n pleitooreenkoms en erken hy is 25-duisend-rand betaal is om DJ Warras dood te skiet. Hy is ook bykomende vonnisse opgelê vir vuurwapen-, ammunisie- en immigrasie-oortredings. Intussen word die verrigtinge teen die vermeende meesterbrein Victor Majola op 17 Augustus 2026 afsonderlik voortgesit vir die finalisering van die voorverhoorkonferensie.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het intussen die uitspraak verwelkom. NVG-woordvoerder Magaboke Mohlatlole sê die vonnis versterk aanspreeklikheid::
# Die regering waarsku Suid-Afrikaners om gereed te maak vir koue, nat en winderige weer met ‘n koue front wat van Sondag af in die Wes- en Noord-Kaap sal inbeweeg. Die adjunkregeringswoordvoerder William Baloyi sê die stelsel sal snerpende koue, rowwe see en sneeu oor bergagtige gebiede bring, voor dit ooswaarts na die Oos-Kaap en verder na die binneland sal versprei. Sneeu sal ook moontlik wees oor hoër gebiede in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.
# Sokker: Die verdedigende MTN8-kampioene Orlando Pirates begin vandag hul veldtog vir ‘n rekord vyfde agtereenvolgende titel wanneer hulle teen Durban City op die Orlando-stadion speel. Kaptein Nkosinathi Sibisi sê die Buccaneers is gereed vir ‘n moeilike ontmoeting. Mamelodi Sundowns is gasheer vir Polokwane City en vasbeslote om die plaaslike trofee terug te eis, terwyl AmaZulu teen Sekhukhune United in Durban te staan kom. Kaizer Chiefs keer terug na die kompetisie na ‘n afwesigheid van twee jaar en speel teen Golden Arrows. Die loting vir die MTN8-halfeindstryd sal ná Sondag se kwarteindronde gehou word.
Die Johannesburg Metropolisiedepartement het motoriste intussen gewaarsku oor groot verkeersontwrigtings rondom die Orlando-stadion. Paaie sal van 10-uur vanoggend af gesluit word, met belangrike roetes soos die N17, Soweto-snelweg, Klipspruit Valleyweg, Mookistraat en Martha Louwstraat wat geraak word. JMPD-woordvoerder Xolani Fihla doen ‘n beroep op ondersteuners om vroeg op te daag. Die afskop is om 3-uur vanmiddag, met hekke wat om 11-uur oopmaak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….