Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Openbare Beleggingskorporasie het raadgewers aangestel om die kultuur van die korporasie te midde van die leierskapskrisis te herstel. Luidens ‘n opname is die organisasiekultuur swak, wat lei tot lae moraal en wantroue onder personeel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die munisipaliteite wat nog nie hul uitbetalings ontvang het nie, sal dit teen Vrydag onder streng voorwaardes kry. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het staatsdepartemente wat miljarde rand aan munisipaliteite skuld gewaarsku dat indien hulle nie die bedrae teen September vereffen nie, gaan hy hulle geldkrane toedraai.
En tweedens is daar nuus oor die arrestasie van twee verdagtes in Luxemborg vir die moord op drie Franse burgers buite Pretoria vroeër die maand. Een van die verdagtes is die eksman van een van die slagoffers.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die EFF het die Konstitusionele Hof genader om dringend in te gryp om ‘n uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof tersyde te stel wat die Parlement se Artikel 89-ampsklagverrigtinge teen president Cyril Ramaphosa gestaak het. Hulle voer aan dat die uitspraak onwettig inmeng met die Parlement se grondwetlike verantwoordelikhede.
# Sowetan:
Het ‘n voorbladfoto van ‘n kaal stuk grond met ‘n enkele boom in Protea Glen in Soweto. Die koerant berig die Spesiale Ondersoekeenheid het bevind nege-miljoen-rand se Lotto-geld sou hier gebruik word om ‘n sport- en ontspanningsentrum op te rig. Die eenheid het 16 mense wat by die projek betrek word, beveel om die geld terug te betaal.
# En The Citizen:
Lei met: “TRUMP’S YOUNG AFRICAN FANS”. Die koerant skryf luidens navorsing deur die Ichikowitz-familiestigting steun tweederdes van Afrika se jeug president Donald Trump. Hulle glo na bewering hy kan vir hulle ‘n beter toekoms bied.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die betalings aan munisipaliteite.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n onderonsie oor sandkastele wat op Vishoek se strand uitgebreek het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor Koningstrand se parkeerterein wat oorvloei word deur rioolwater. Dit hou ‘n ernstige gesondheidsgevaar vir besoekers in.
En tweedens skryf die koerant die liggaam van die 35-jarige Shane Arends is gevind. Hy is op 9 Julie by sy huis in Chatty ontvoer deur ‘n groep mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die regering se plan om regstreeks in die land se grondvlak-ekonomie te belê. Die koerant berig die inisiatief is daarop gemik om die informele sektor te formaliseer en te bemagtig, veral spaza-winkels, wat noodsaaklik is vir plaaslike handel en werk.
En tweedens word berig oor die weerwaarskuwing van swaar neerslae wat vir KwaZulu-Natal uitgereik is.
NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die konsep-omgewingsbestuursplan vir Dorob en drie ander nasionale parke reguleer roetes en operateurs wat die ministerie van die Omgewing, Bosbou en Toerisme nog nooit gekarteer of geraadpleeg het nie. Toerisme-operateurs en die Toer- en Safarivereniging van Namibië het versoek dat die plan vir eers gestaak word.
En tweedens skryf die koerant die Hoërhof sal nou moet bepaal of die Namibiese polisie wettig opgetree het toe hulle die Fishrot-beskuldigde, Marén de Klerk, verhoed het om toegang tot meer as 1,3-miljoen-rand in aftreevoordele te verkry.