Nuus 09:00
BULLETIN 26 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema belowe gelyke verteenwoordiging vir vroue in die werkplek
# Patricia De Lille se Wêreldbeker-reis van een-miljoen-rand is onder die vergrootglas
# En motorsport: Norris spring vandag eerste weg by die Hongaarse Grand Prix
# Die EFF-leier Julius Malema sê die party sal ‘n beleid formuleer wat gelyke verteenwoordiging van mans en vroue in die werkplek vereis. Malema het tydens die bekendstelling van die party se verkiesingsmanifes en regeringsvisie gesê geen werkplek sal toegelaat word om meer mans as vroue in diens te neem nie. Hy sê geslagsgelykheid moet in alle sektore afgedwing word om billike toegang tot werksgeleenthede te verseker en die ekonomiese bemagtiging van vroue in Suid-Afrika te bevorder:
# Die voorsitter van die ANC en premier in Limpopo Phophi Ramathuba sê die party sal Nelson Mandela se nalatenskap eer deur werk te skep, armoede te verminder en dienslewering te verbeter. Ramathuba het ondersteuners by die ANC Mandela Legacy-saamtrek in Sibasa, Limpopo, toegespreek en gesê sommige ontplooide amptenare is skuldig aan swak dienslewering. Sy het gewaarsku dat onderpresterende munisipale leiers teruggeroep sal word en gesê die ANC sal altyd die behoeftes van arm gemeenskappe bo individuele ampsdraers stel:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, is onder die vergrootglas ná ‘n twee-daagse besoek aan Mexiko tydens die FIFA Wêreldbeker wat belastingbetalers glo een-miljoen-rand gekos het. De Lille sê die besoek was gemik op die bevordering van Suid-Afrika as ‘n toerismebestemming en die versterking van toerisme-bande met Mexiko. Die reis het vrae laat ontstaan oor regeringsbesteding, met kritici wat vra of die koste geregverdig kan word ondanks die minister se argument dat die besoek deel was van die land se toerisme-bevorderingspogings.
# En sportnuus:
# Motorsport: Lando Norris het ‘n dramatiese eerste wegspringplek in vandag se Hongaarse Grand Prix behaal. Die McLaren-bestuurder het Lewis Hamilton in sy Ferrari net-net geklop. Chaos in die laaste sessie het tot twee strafbepalings op die wegspringrooster gelei. Hamilton is in die vyfde posisie geplaas nadat hy Oscar Piastri geblokkeer het, en Kimi Antonelli van Mercedes is tot sewende afgeskuif vir ‘n geel vlag-oortreding. Charles Leclerc van Ferrari neem die tweede posisie in, terwyl Antonelli se spanmaat George Russell in die sesde plek sal wegspring.
# Rugby: Die Leeus en verdedigende kampioene Griekwas het gister bonuspunt-oorwinnings behaal in die tweede ronde van die Curriebeker-kompetisie. Op Ellispark het die Leeus teruggeveg met ‘n 52-29-oorwinning oor die Pumas. Jarod Cairns het twee drieë gedruk om by die gasheer se sewe drieë te voeg. In Kimberley het die Griekwas die Bulle XV met 56-26 verpletter. Die gasheer het altesaam agt drieë gedruk, met ‘n driekuns deur Bobby Alexander en Gurshwin Wehr. Vanmiddag om drie uur pak die Stormers 23 die Boland Kavaliers op die Boland-stadion in Wellington.
# En ten slotte: Bafana Bafana se afrigter Hugo Broos het ‘n roerende huldeblyk aan wyle Jayden Adams gelewer en sê hy verstaan die pyn van die verlies van ‘n seun. Broos het in Stellenbosch, waar Adams ter ruste gelê is, die 25-jarige beskryf as ‘n merkwaardige sokkerspeler wat vroeë uitdagings by Mamelodi Sundowns oorbrug het om ‘n gereelde speler vir die klub en land te word. Hy voeg by sy dood is steeds moeilik om te begryp:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….