Nuus 08:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 12 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Studente-unie doen beroep op minister Nzimande om teen onbevoegde NSFAS-raad op te tree
# Die IVP-leier doen ‘n beroep vir optrede om die waterkrisis in SA op te los
# En, rugby: ‘n Naelskraapse VRK-oorwinning vir die Leeus
# Die Suid-Afrikaanse Studente-unie het die minister van Hoër Onderwys Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, sewe dae gegee om teen die NSFAS-raad se onbevoegdheid op te tree. Meer as 70-duisend studente het nog steeds nie hulle toelae sedert einde Mei ontvang nie. ‘n Woordvoerder van die unie, Asive Dlaniwa, sê die studente skryf hulle jaar-eindeksamens maar hulle is totaal hulpeloos en word aan die genade van NSFAS en sy onbevoegde diensverskaffers oorgelaat:
Speel klankgreep: ENG AsiveonNSFAS
# Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, doen ‘n beroep op die regering om beslissend op te tree en die waterkrisis in die land op te los. Hy sê die land het ‘n omvattende hersiening en uitbreiding van die waterinfrastruktuur nodig, insluitend damme, suiweringsaanlegte en verspreidingsnetwerke. Die belegging moet ‘n nasionale prioriteit wees en en moet doeltreffend uitgevoer word. Hlabisa sê regeringsinstellings verantwoordelik vir waterbronne moet goed bestuur word en korrupsievry wees:
Speel klankgreep: ENG VelenkosinionWater
# Die Palestine Solidarity Campaign Cape Town skaar hom by godsdiens-organisasies, die burgerlike samelewing, politieke partye en menseregtegroepe wat eis die Wes-Kaapse regering moet sy onomwonde steun en solidariteit met die mense van Palestina betoon, net soos hulle by die mense van Oekraïne gestaan het. Die aktiviste het gister ‘n opmars na die provinsiale wetgewer gehou om ‘n memorandum aan die speaker Daylin Mitchell te oorhandig. Die organisasie wil hê die premier, Alan Winde, moet beloof om die Israeliese premier Benjamin Netanyahu te arresteer, net soos hy beloof het om Vladimir Putin in hegtenis te neem.
# Die uitvoerende hoof van die beleggingsbestuursmaatskappy Everest Wealth, Thys van Zyl, waarsku oor skerp stygings in skoolgeld en mediese fondstariewe vir volgende jaar. Van Zyl beskryf dit as nog ‘n na-skok van die Covid-19-pandemie. Sommige skole en mediese fondse het dubbelsyfer-verhogings vir 2024 aangekondig. Van Zyl sê tydens die pandemie kon baie ouers nie skoolfooie bekostig nie of hulle het nie betaal nie omdat hulle kinders tuis gebly het, en goeie betalers het slege betalers geword. Hy moedig verbruikers aan om te kyk na maniere waar hulle kostes kan sny en moontlik geld kan spaar.
# En om mee af te sluit, rugby: Die Leeus het hulle eerste Verenigde Rugbykampioenskap-oorwinning van die seisoen behaal deur die Scarlets gisteraand in Llanelli met 24-23 te klop. Sanele Nohamba het ‘n drie van Henko van Wyk laat in die wedstryd verdoel om die sege te beklink. Die Stormers het nog ‘n nederlaag op hulle toer gely toe Benneton hulle in Treviso met 20-17 geklop het. Vrydag het die Sharks met 12-10 teen nog ‘n Italiaanse span, Zebre, in Parma verloor. Die Bulle is die enigste ander Suid-Afrikaanse span wat die naweek ‘n oorwinning kon behaal toe hulle Cardiff in Wallis met 18-12 geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….