Nuus 08:00
BULLETIN 26 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Firoz Cachalia stuur die Nasionale Polisie Herstelagenda van stapel
# Julius Malema beloof verantwoordbare en funksionele munisipaliteite
# En duisende neem vandag deel aan die 702 Jozi My Jozi Walk the Talk
# Die regering het die Nasionale Polisie-herstelagenda van stapel gestuur. Dit is landswyd gemik op 140 polisiestasies met hoë misdaadsyfers. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het ydens ‘n vergadering met provinsiale LUR’e vir Gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, gesê die distrikte sal verbeterde hulpbronne, infrastruktuuropgraderings en strenger toesig ontvang. Hy sê die hervormings sal misdaadintelligensie, speurdienste en gemeenskapspolisiëring versterk om georganiseerde misdaad te bestry en die openbare vertroue in die polisie te herbou:
# Die EFF-president Julius Malema sê daar kan geen ware vryheid wees sonder munisipaliteite wat basiese dienste lewer nie. Hy het tydens die bekendstelling van die party se 2026 Plaaslikeregeringsmanifes in Thohoyandou, Limpopo, beloof om korrupsievrye munisipaliteite te bou wat waardigheid in gemeenskappe herstel. Die manifes sluit praktiese voornemens in om water, elektrisiteit, paaie en gesondheidsorg te verbeter. Hy sê plaaslike regering moet beoordeel word aan dienslewering en die daaglikse lewens van gewone Suid-Afrikaners:
# ‘n Nuwe verslag oor die mynbedryf waarsku Suid-Afrika om die modernisering van mynbou te versnel om wêreldwyd mededingend te bly. ‘n Raadgewer van die Navorsingsinstituut vir Innovasie en Volhoubaarheid, Ashleigh Muller, sê verouderende infrastruktuur, vaardigheidstekorte en stadige tegnologie-aanvaarding verswak die sektor. Sy sê nouer samewerking tussen die regering, die bedryf en navorsingsinstellings, sowel as verhoogde belegging in innovasie en vinniger aanvaarding van gevorderde tegnologieë is noodsaaklik om die toekoms van Suid-Afrika se mynbedryf te verseker:
# Die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit in Noordwes het ‘n Verspreidingsagentskapooreenkoms met Eskom onderteken om te help met sy skuld van 1,7-miljard-rand. Ingevolge die ooreenkoms sal Eskom nou eerste aanspraak hê op inkomste uit elektrisiteitsverkope deur ‘n skuldterugbetalingsplan. Nasionale Kabinetsverteenwoordiger, Kopung Ralikontsane, sê die munisipaliteit sukkel om sy skuld te delg en het baie op billike deelbefondsing staatgemaak. Sekere inwoners en ondernemings het die stap versigtig verwelkom, met die hoop dat elektrisiteitsvoorsiening en finansiële bestendigheid sal verbeter.
# Statebondspele: Span Suid-Afrika het gisteraand uitstekende vertonings in die swemitems uitgeblink. Pieter Coetze het Suid-Afrika se tweede goue medalje verower en die spelerekord met ‘n blitsige 24,18 sekondes in die mans 50 meter rugslag-eindronde verpletter. Sy spanmaat Ruard van Renen het brons in dieselfde item verower. Nathan Hendricks het Suid-Afrika se eerste goud vroeër gewen. Die 20-jarige het die 100 meter vryslag in die S13-klas in ‘n tyd van 54,54 sekondes gewen.
# En ten slotte: Duisende mense het van vroeg vanoggend die strate van Johannesburg ingevaar vir die 702 Jozi My Jozi Walk the Talk. Die jaarlikse geleentheid word deur die Stad Johannesburg aangebied en bied vyf-, agt- en 15-kilometer roetes deur die middestad aan, om gemeenskap, welstand en stedelike vernuwing te vier. Die organiseerders sê die geleentheid ondersteun ook projekte wat hawelose mense help deur die Mi-Change-program, terwyl deelnemers aangemoedig word om die hartjie van Johannesburg saam te herontdek en terug te eis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….