Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die waarnemende minister van Polisie, Feroz Cachalia, wil die Suid-Afrikaanse Polisiediens ingrypend hervorm. Dit volg namate die onthullings oor polisiekorrupsie by die Madlanga-kommissie aan die lig kom.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die prokureur van Heidelberg wat na bewering ‘n 13-jarige meisie probeer koop het, Carel Schoeman, het in die hof getuig hy wou haar ma betaal om die kind te laat ophou met sekswerk.
En tweedens skryf die webblad Frankryk is nou die eerste Europese land wat deur wetgewing kinders onder 15 verbied om sosiale media te gebruik.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Alternatiewe Inligting- en Ontwikkelingsentrum het die Nasionale Tesourie se besluit om miljarde rand se befondsing van dosyne munisipaliteite terug te hou skerp gekritiseer. Die koerant berig die sentrum sê die stap straf arm huishoudings terwyl dit nie daarin slaag om die grondoorsake van die finansiële krisis op Suid-Afrika se plaaslikeregeringsvlak aan te spreek nie.
# Sowetan:
Berig ‘n sekuriteitswag het in die hofsaak van Vusimuzi “Cat” Matlala getuig hy het een van die twee vermeende sluipmoordenaars gewond toe hulle probeer het om die taxibaas Joe ‘Ferrari’ Sibanyoni by die hek van die landgoed waar hy woon dood te skiet.
# En The Citizen:
Skryf volgens arbeidskenners kos die uitreiking van vals mediese sertifikate of siekbriewe die ekonomie jaarliks sowat 19-miljard-rand.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, se besluit om meer as ses-duisend-200 staatshuise wat deur regeringsamptenare bewoon word te ondersoek. Hy wil eiendomme identifiseer wat nie meer nodig is nie en dit verkoop of herontwikkel. Die koerant skryf Macpherson verwag binne 30 dae ‘n verslag van die direkteur-generaal.
Tweedens skryf die koerant hoewel die petrolprys in Augustus effens kan daal, sal die dieselprys moontlik styg.
En laastens is daar nuus oor Australiese geboortesyfers. Slegs een uit 15-miljoen Australiese vroue skenk lewe aan identiese tweelinge.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig drie beskuldigdes wat na bewering verantwoordelik is vir ‘n vlaag van rooftogte in Nelson Mandelabaai het in die hof verskyn. Die mans staar sowat 50 aanklagte in die gesig waaronder poging tot moord.
En tweedens skryf die koerant verskeie nuwe gevalle van bek-en-klouseer is in die Baai aangemeld.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die probleem van rookbesoedeling van die stortingsterrein waar rommel smeul is steeds nie opgelos nie en talle woonbuurtes word hierdeur geraak.
En tweedens word berig die Spesiale Ondersoekeenheid gaan ondersoek instel na Kokstad se finansies.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibiërs kan verwag om sowat eenduisend-882-rand te betaal vir ’n enkelvlug tussen Windhoek en Johannesburg en eenduisend-939-rand na Kaapstad wanneer die land se nasionale redery, Namibia Air, soos beoog opstyg. Die pryse sluit nie belasting in nie.
En tweedens skryf die koerant een van die drie beskuldigdes in die Hochfeld-daggasaak, Armand Schultz, gaan nie soos sy medebeskuldigdes borgtog ontvang nie. Die Hoërhof in Windhoek het sy appèl teen die weiering van borgtog van die hand gewys omdat hy steeds ’n vlugrisko is.